Bejaarde eis halfmiljoen van bekende winkelgroep
Shoprite ontken skuld
Shoprite beweer die 82-jarige het nie gekyk waar sy geloop het toe sy in 'n area wat onder konstruksie was, geval en na bewering ernstige beserings opgedoen het nie.
In die saak waarin ’n 82-jarige inwoner van Tsumeb Shoprite hof toe sleep nadat sy in 2021 op ongelyke teëls in die Shoprite-winkel in die Le Platz-inkoopsentrum op die dorp geval en ernstige beserings opgedoen het, sê dié winkelgroep hy is nie N$500 000 aan haar verskuldig nie.
Veronika Neidel het in Oktober 2022 die saak teen Shoprite aanhangig gemaak nadat sy in September 2021 in ’n area van die winkel, wat glo onder konstruksie was, geval en sagteweefselbeserings en ’n bekkenbreuk opgedoen het.
Sy eis N$500 000 in skadevergoeding; insluitend N$100 000 vir mediese onkostes en N$400 000 vir pyn, lyding, ongemak, permanente verlies van lewensgenietinge en sielkundige trauma wat sy glo verduur het.
“Die beserings was as gevolg van die onregmatige, onwettige en of nalatige optrede van die verweerder [Shoprite] deurdat die teëls los was en aan gewerk is en geen waarskuwing of afbakenings geplaas is om mense van die potensiële gevaar in te lig nie,” lui Neidel se verklaring.
ONTKEN SKULD
Shoprite beweer egter in sy pleitstukke daar was wel ’n waarskuwing by die ingang van die winkel en dat groot, helderkleurige kratte in die area gebruik is om mense te waarsku om nie die area binne te gaan nie.
Neidel het in ’n latere verklaring dié stelling verwerp en beklemtoon daar was geen waarskuwing by die ingang nie en indien daar was, was dit nie sigbaar nie. Sy voer ook aan daar was geen helderkleurige kratte in die betrokke area nie.
Shoprite het verder aangevoer nadat Neidel geval het, het sy opgestaan en verder geloop.
Hulle het verder uitgewys sy het voor die val met ’n loopstok geloop en voer aan haar beserings is as gevolg van ’n voorafbestaande mediese toestand of haar gevorderde ouderdom.
“Die eiser [Neidel] het nie gekyk waar sy loop nie en het nie aandag gegee aan wat voor haar was nie. As sy die helderkleurige kratte gesien het en dat die teëls besig was om herstel te word, sou sy nie daaroor geloop en geval het nie.”
VERRIGTINGE
Die saak sou Dinsdag vir voorverhoorverrigtinge in die hoërhof in Windhoek begin, maar Neidel se regsverteenwoordigers het by wyse van ’n statusverslag – wat Dinsdag by die hof ingedien is – versoek dat die saak tot 28 April uitgestel word aangesien Neidel nie vir verdere instruksies bereik kon word nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie