Veronika Neidel in 2021 ná die voorval. Foto Argief
Veronika Neidel in 2021 ná die voorval. Foto Argief

Bejaarde kry N$85 000 ná eis teen Shoprite

Kristien Kruger
’n Twee-en-tagtigjarige inwoner van Tsumeb wat Shoprite hof toe gesleep het nadat sy in 2021 na bewering op ongelyke teëls in ’n winkel op die dorp geval en ernstige beserings opgedoen het, sal na verwagting teen die einde van dié maand N$85 000 ontvang as deel van ’n skikkingsooreenkoms.

Veronika Neidel het aanvanklik ’n halfmiljoen in skadevergoeding by dié winkelgroep geëis, maar volgens die skikkingsooreenkoms het Shoprite onderneem om N$75 000 aan haar te betaal plus ’n bykomende N$10 000 om tot haar regskostes by te dra.

In die kennisgewing wat by die hoërhof in Windhoek ingedien is, betaal Shoprite die bedrag sonder om enige aanspreeklikheid of skuld te erken.

“Die verweerder sal ’n bedrag van N$75 000 aan die eiser betaal om die probleem op te los. Die totale verskuldigde bedrag sal voor of op 31 Augustus 2023 in ’n bankrekening van die eiser inbetaal word.”

‘STRENG VERTROULIK’

Volgens dié kennisgewing is die bepalings van die skikkingsooreenkoms tussen die partye en hul regsverteenwoordigers streng vertroulik.

“Skriftelike toestemming moet van die verweerders verkry word voordat die eiser die inhoud van hierdie ooreenkoms aan ’n derde party bekend kan maak. ’n Verbreking van hierdie vertroulikheidsklousule sal die eiser aanspreeklik maak vir kontraktuele skadevergoeding wat gelykstaande is aan die skikkingsbedrag.”

AGTERGROND

Neidel het in Oktober 2022 die saak teen Shoprite aanhangig gemaak nadat sy in September 2021 in ’n area van die winkel, wat glo onder konstruksie was, geval en sagteweefselbeserings en ’n bekkenbreuk opgedoen het.

Sy het aanvanklik N$500 000 in skadevergoeding geëis; insluitend N$100 000 vir mediese onkostes en N$400 000 vir pyn, lyding, ongemak, permanente verlies van lewensgenietinge en sielkundige trauma wat sy glo verduur het.

“Die beserings was as gevolg van die onregmatige, onwettige en of nalatige optrede van die verweerder [Shoprite] deurdat die teëls los was en aan gewerk is en geen waarskuwing of afbakenings geplaas is om mense van die potensiële gevaar in te lig nie,” lui Neidel se verklaring.

Shoprite het aangevoer nadat Neidel geval het, maar daarna opgestaan en verder geloop het.

Hulle het ook volgehou dat daar wel ’n waarskuwing by die ingang van die winkel was en daar glo groot, helderkleurige kratte in die area was om mense te waarsku om nie die area binne te gaan nie.

Neidel het dié stelling verwerp en aangevoer dat daar geen kratte of ’n waarskuwing by die ingang was nie, of indien wel, dit nie sigbaar was nie.

“Die eiser [Neidel] het nie gekyk waar sy loop nie en het nie aandag gegee aan wat voor haar was nie,” het Shoprite aangevoer.

[email protected]

Kommentaar

Susan Rheeder 1 Jaar Gelede05 August 2023

Wat 'n skande om haar so min te betaal. Shoprite se algemene Health & Safety in SA laat ook veel te wense oor.

Rapporteer

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!