• Tuisblad
  • Howe
  • Bejaardes se moordenaar bring aansoek vóór vonnis
Die veroordeelde moordenaars, Julius Frederick (Lemmy) Arndt en Andries Afrikaner. Foto argief
Die veroordeelde moordenaars, Julius Frederick (Lemmy) Arndt en Andries Afrikaner. Foto argief

Bejaardes se moordenaar bring aansoek vóór vonnis

Saak uitgestel tot Maart
Een van die veroordeelde moordenaars beweer daar was onreëlmatighede tydens die verhoor.
Kristien Kruger
Die vonnisoplegging van die twee mans wat skuldig bevind is aan die grumoord op ’n bejaarde egpaar op hul plaas naby Koës in Februarie 2018 is vertraag.

Die vertraging is weens een van die beskuldigdes, Andries Afrikaner, wat van voorneme is om ’n aansoek in te dien op grond van die bewering dat daar onreëlmatighede in die verhoor was.

Die aansoek word ingevolge die strafproseswet gebring en indien Afrikaner se aansoek onsuksesvol is, sal die vonnisoplegging eers daarna gelewer word.

Giel Botma (79) en sy vrou, Sarie (80), is ses jaar gelede wreed in hul plaashuis aangeval. Giel is met sy eie .22-geweer doodgeskiet en Sarie is verkrag en met skoenveters verwurg.

Afrikaner en sy medebeskuldigde, Julius Frederick (Lemmy) Arndt, is op 4 Oktober skuldig bevind aan twee aanklagte van moord en een klag van verkragting, huisbraak, sameswering en diefstal.

’n Derde beskuldigde, Johannes Marcellinus Christiaan, is op alle aanklagte onskuldig bevind en is vrygespreek.



SKULDIG

Die Botma-egpaar se liggame is ure ná hulle moord gevind. Sarie se liggaam is in die badkamer ontdek nadat die deur oopgeskop is.

Die egpaar se voertuig is later in Arndt se besit gevind en hy is daarna in hegtenis geneem. Arndt het tydens die verhoor die getuiebank ingeneem en vertel dat hy en Afrikaner die huis binnegegaan het omdat dit donker en stil was en hulle gedink het hulle sal iets kan steel.

Hy het verder getuig dat hy later nie vir Afrikaner gesien of gehoor het nie en daarom een van die voertuie se sleutels gevat en weggery het.

Hy het enige kennis of betrokkenheid by die moorde ontken en meen dat hy nie een van die oorledenes daardie aand gesien het nie.

Ten spyte hiervan is Sarie se DNS tydens die forensiese ondersoek op Arndt se onderbroek gevind. Arndt se DNS is ook onder Sarie se vingernaels gekry.

“Dit bewys duidelik dat die oorledene en [Arndt] baie naby aan mekaar was gedurende die tyd van die voorval,” lui die hofuitspraak.

Afrikaner is ook skuldig bevind op verkragting.

“Terwyl [Afrikaner] se DNS nie aan dié van die oorledenes gekoppel is nie, was hy te alle tye teenwoordig gedurende die pleging van die misdade.

“Hy was teenwoordig terwyl die oorledene verkrag is en het niks gedoen om hom van [Arndt] se optrede te distansieer nie. Dit maak hom ’n gewillige deelnemer aan die misdade,” het regter Dinnah Usiku in haar uitspraak bevind.



UITGESTEL

Die twee veroordeelde moordenaars, Afrikaner en Frederick, het verlede week weer in die hoërhof in Windhoek verskyn.

Dié hofverskyning was geskeduleer vir die doel van finale betoë voor vonnisoplegging waartydens partye vertoë sou rig ter verswaring of versagting van vonnis. Verrigtinge is egter onverwags onderbreek nadat Afrikaner die hof van sy beplande aansoek in kennis gestel het.

Tydens Vrydag se verskyning het Afrikaner se regsverteenwoordiger ook hom aan die saak onttrek en die hof meegedeel dat hy nie Afrikaner se aansoek sal hanteer nie.

Usiku het die saak tot Maart volgende jaar uitgestel vir die aanhoor van Afrikaner se aansoek.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer