• Tuisblad
  • Howe
  • Bemiddeling misluk in saak teen Smith-Howard
Die voormalige voorsitter van die Erongo-streekraad, me. Ciske Smith-Howard (links), en IPC-raadslid, mnr. Sifried //Garoëb. Foto verskaf
Die voormalige voorsitter van die Erongo-streekraad, me. Ciske Smith-Howard (links), en IPC-raadslid, mnr. Sifried //Garoëb. Foto verskaf

Bemiddeling misluk in saak teen Smith-Howard

‘Dit was politieke uitsprake; nie laster nie’
'n IPC-raadslid dagvaar me. Ciske Smith-Howard vir N$350 000 vir beweerde lasterlike uitlatings wat sy in 'n onderhoud gemaak het.
Kristien Kruger
Die saak waarin die geskorste raadslid van die Independent Patriot for Change (IPC), me. Ciske Smith-Howard, van laster beskuldig word, nader nou die verhoorstadium nadat bemiddeling onsuksesvol was.

Die IPC-raadslid, mnr. Sifried //Garoëb, beskuldig Smith-Howard dat sy in Oktober verlede jaar tydens ’n onderhoud wat op Facebook uitgesaai is, lasterlike en valse uitlatings gemaak het.

Sowat 14 000 mense het die onderhoud op The Evening Review, ’n Namibia Media Holdings (NMH)-program, gekyk.

“’n IPC-raadslid op Hentiesbaai het oënskynlik van sy raad gesteel terwyl hy ’n munisipale werknemer was. In 2018 het hulle hom van sy pligte onthef nadat ’n ondersoek bevind het dat hy skuldig is. Ek voel sterk dat ons nie ’n dief die hoof van die instansie kan maak waarvan hy gesteel het nie,” is die uitlating wat Smith-Howard tydens dié onderhoud gemaak het en waarop //Garoëb se saak gebaseer is.

//Garoëb beweer Smith-Howard het dié valse, lasterlike en onregmatige stellings gemaak met die doel om sy waardigheid en sy reputasie te skend.

“Sy wou die indruk skep dat die eiser ’n veroordeelde misdadiger is wat as ’n amptenaar van die munisipale owerheid op Hentiesbaai afgedank is.

“Die eiser het geen skuldigbevinding aan enige strafregtelike oortreding nie en is nie afgedank nie,” lui sy eisbesonderhede.

//Garoëb het selfs sy polisieklaringsertifikaat by sy aansoek aangeheg.

Hy eis N$350 000 in skadevergoeding van Smith-Howard en doen aansoek vir ’n bevel van die hoërhof in Windhoek wat haar verplig om dié uitlatings terug te trek en skriftelik verskoning te maak.

‘UITLATINGS IS WAAR’

In pleitstukke voer Smith-Howard aan haar uitlatings is waar.

Om dit te staaf, het sy ’n klagstaat wat die munisipale owerheid op Hentiesbaai teen //Garoëb uitgereik het, asook die gewysigde notule van ’n IPC-vergadering waartydens die onderwerp bespreek is, by haar pleitstukke aangeheg.

“Die stellings is politieke uitsprake wat in ’n oop en demokratiese samelewing, in pas is met grondwetlike regte op vryheid van spraak en uitdrukking in politieke debat en politieke aktiwiteit. Dit kan daarom nie as lasterlik beskou word nie,” sê Smith-Howard in haar pleitstukke wat op 23 Junie vanjaar by die hof ingedien is.

Sy sê verder dat bewerings van bedrog, omkopery en diefstal van openbare eiendom teen //Garoëb gemaak is en haar uitlatings was daarom glo in openbare belang.

“Dit is ongewens dat persone met twyfelagtige morele aansien openbare instellings moet lei.”

Smith-Howard ontken dat sy die uitlatings gemaak het met die bedoeling om //Garoëb se waardigheid of reputasie te skend.

BEMIDDELING ONSUKSESVOL

Partye het op 17 Augustus vir hof-gefasiliteerde bemiddeling ontmoet, maar onderhandelinge was onsuksesvol.

Regter Nate Nduaendapo sal die saak aanhoor en ’n voorverhoorbevel en –verslag is reeds uitgereik.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!