Betogers eis wysiging van aborsiewet

Yes to choice-optog Saterdag gehou
Openbare verhore is reeds verlede jaar van stapel gestuur na aanleiding van 'n klagskrif deur pro-keuse-aktiviste wat tot dusver 63 000 handtekeninge gewerf het.
Jana-Mari Smith
Betogers het Saterdag Windhoek se strate ingevaar as kampvegters vir die regte van vroue om ongewenste swangerskappe wettig en veilig te beëindig.

Die Yes to Choice-optog is deur die Voices for Choices and Rights Coalition (VCRC) gereël en het plaasgevind voor die uitreiking van 'n parlementêre staande komiteeverslag, wat na verwagting binnekort vrygestel sal word, oor die vraag of die huidige aborsie- en sterilisasiewet gewysig moet word of nie.

Die byna 50 jaar oue wet handhaaf 'n byna algehele verbod op wettige en veilige aborsies in Namibië.

Openbare verhore is verlede Oktober van stapel gestuur na aanleiding van 'n klagskrif deur pro-keuse-aktiviste wat tot dusver 63 000 handtekeninge ter ondersteuning gewerf het.

"Hoeveel 19-jariges sterf omdat Afrikaleiers nie in staat is, of nog belangriker, nie bereid is om ons toegang tot veilige reproduktiewe gesondheidsorg te gee nie?” het me. Yevai Zhakata, een van die sprekers by die optog Saterdag, gevra.

Studies toon dat Afrikalande suid van die Sahara vanaf 2019 die hoogste aantal aborsieverwante sterftes ter wêreld het.

Navorsing het getoon aborsiegetalle neem nie in lande af waar dit verbied of beperk word nie, in vergelyking met waar dit wettig is. Beperkende wette dwing vroue egter om onwettige aborsies te ondergaan wat 'n ernstige bedreiging vir hul gesondheid en lewens inhou en hulle boonop in die tronk kan laat beland.

Me. Hildegard Titus, die stigter van Power Pad Girls, het gesê selfs aborsies wat onder die huidige wet toegelaat word, soos in gevalle van bloedskande en verkragting, word dikwels aan jong meisies geweier weens die stryd om wettige aborsies te verkry.

“Hoeveel vroue het al uitgebloei op pad hospitaal toe as gevolg van agterstraat-aborsies? Hoeveel van ons gaan agterstraat-aborsies uitvoer omdat ons staat ons in die steek gelaat het? Hoeveel van ons gaan gedwing word om swangerskappe tot die volle termyn te dra? Hoeveel is nou in die tronk omdat hulle probeer het om hul swangerskappe te beëindig?” het sy gevra.

“In hierdie land hou ons daarvan om te praat oor hoe baie ons apartheid haat en hoe ons aanbeweeg het, maar hoe kan ons regtig van apartheid aanbeweeg as ons wette in plek hou wat geskep is deur 'n regering wat ons steeds beheer?” het Zhakata bygevoeg.

‘KOLONIALE IDEOLOGIE’

Me. Ndiilokelwa Nthengwe van die VCRC het Saterdag gesê die huidige wet is bekragtig om geboortesyfers onder wit vroue te beheer en die apartheidsregime te handhaaf.

Sy het gesê terwyl Namibië 32 jaar van onafhanklikheid vier, word talle Namibiërs se regte en vryhede steeds deur koloniale wette beïnvloed.

In 'n opiniestuk wat voor Onafhanklikheidsdag gepubliseer is, het dié skrywer en aktivis geskryf: "Tot watter mate moet ons dan aanspraak maak op volle onafhanklikheid wanneer koloniale ideologie en houdings om elke hoek en draai van ons samelewing voortgaan?”

RIMPELEFFEK

Me. Rosalia Hipondoka, stigter van die eenheid vir vermiste persone, het gesê talle jong meisies hardloop van die huis af weg om ongewenste swangerskappe in onveilige toestande te beëindig om stigmatisering en vervolging te vermy.

“Aborsie gaan daaroor om vroue die reg te gee om keuses te maak oor of hulle kinders wil hê op grond van hul ouderdom, finansiële stabiliteit en verhoudingstabiliteit. Dit is nie die regering se plek om wetgewing teen vroue se keuses in te stel nie.”

"Die argument teen aborsie is 'n morele kwessie wat nie deur wetgewing belet moet word nie,” het sy gesê.

Hipondoka het beklemtoon veilige aborsies is 'n individu se keuse en moet nie gebaseer word op die morele en godsdienstige oortuigings van ander nie.

VEROUDERD

Aan die begin van die openbare verhore verlede jaar, het dr. Ben Nangombe, die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, die wetshervorming ondersteun.

"Dit is die ministerie se siening dat die huidige wetgewing oor aborsie verouderd is en daarom hersien moet word. ’n Nuwe wetgewing moet in werking gestel word om die werklikheid in ons land te takel."

Hy het gesê die huidige wetgewing pas by die kriteria van 'n uitgediende wet wat "nie meer die doel dien waarvoor dit bedoel is nie."

Die Namibiese ginekoloog en verloskundige, dr. David Emvula, het aan die komitee gesê hoewel data skaars is weens die geheime aard van onwettige aborsies, het ten minste 14 vroue tussen April 2018 en Maart 2021 aan aborsieverwante komplikasies in Namibië gesterf.

Emvula het gewaarsku dat aborsies, ten spyte van Namibië se beperkende wet, “steeds plaasvind, en ons verloor vroue weens hierdie komplikasies van aborsies. Wanneer ’n vrou ’n swangerskap wil beëindig, sal sy dit doen,” het hy gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!