• Tuisblad
  • Howe
  • Bevel teen padkonstruksie na tinmyn by Khorixas

Bevel teen padkonstruksie na tinmyn by Khorixas

Ndimulunde moet hofkoste opdok
Regter Collins Parker ag die dringende aansoek van twee bewaringsgebiede in die Kunenestreek as dringend.
Francoise Steynberg
Regter Collins Parker het Maandag in die hoërhof in Windhoek die teenaansoek van Ottilie Ndimulunde teen ’n dringende hofaansoek van twee kommunale bewaringsgebiede in die Kunenestreek, ’n tradisionele owerheid en toerismemaatskappy van die rol geskrap.

“Die eerste respondent het kom rugby speel, maar die wedstryd is as’t ware ’n sokkerwedstryd,” het Parker in die hofbevel aangevoer en die saak van die vier applikante rakende ’n nuwe pad na ’n tinmyn as dringend verklaar.

Die vier applikante is die bewaringsgebiede van Doro !Nawas en Ûibasen Twyfelfontein, asook die ≠Aodaman Tradisionele Owerheid en Ultimate Safaris.

Volgens die hofbevel word Ndimulunde – die eerste respondent – of enige persoon wat in diens is of optree onder haar leiding, verbied om op enige wyse hoegenaamd swaar masjinerie, insluitend padskrapers, graafmasjiene en wipbakvragmotors, te gebruik om enige nuwe pad vanaf die D2612-pad in ’n westelike rigting na ’n mynterrein in die Khorixas-distrik te bou.

Enige nuwe paaie, padwerke of voertuigspore word ook op Plase 535 Probeer en 527 Draaihoek in die Khorixas-distrik deur die hofbevel verbied.

Verder word Ndimulunde of enige persoon wat in diens van of optree onder haar leiding, verbied om op enige wyse hoegenaamd enige mynbedrywighede op die mynkleims 72300, 72301, 72302, 72303, 72304, 72305, 72400 en 72401 te bedryf.

Daar mag ook geen verdere mynbedrywighede op mynkleim 7402 van die sesde respondent, Timoteus Mashuna, plaasvind nie.

Ndimulunde moet ook vir die applikante se hofkoste opdok.

Die saak spruit voort uit ’n dringende hofaansoek van die vier applikante teen Ndimulunde, die omgewingskommissaris Timoteus Mufeti, die minister van die omgewing, bosbou en toerisme Pohamba Shifeta, die mynboukommissaris Isabella Kandjii-Chirchir, Mashuna, die Sorris Sorris-bewaringsgebied en die Daure Daman Tradisionele Owerheid nadat paaie in omgewingsensitiewe gebiede na die voorgestelde tinmyn gebou is.

Die vier applikante is bekommerd oor die impak van mynbou op toerisme en natuurlewe en meen die omgewingsimpakstudie en die kantoor van die omgewingskommissaris het nie daarin geslaag om die gevolge van mynbou in sensitiewe gebiede op die wildlewe en die toerismebedrywighede wat van daardie wild afhanklik is, voldoende aan te spreek nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 33° Oshakati: 23° | 32° Ruacana: 20° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 23° | 31° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 26° | 39° Keetmanshoop: 25° | 40° Aranos: 26° | 39° Lüderitz: 19° | 31° Ariamsvlei: 25° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 24° | 37° Lubumbashi: 15° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 23° | 31° Cape Town: 20° | 28° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 32° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 16° | 28° #REF! #REF!