Bewyse verbind twee glo met Ferrari-moord

Beskuldigdes doen aansoek om borgtog
Volgens die getuienis van die hoofondersoekbeampte het hulle die oorledene se gordel en beursie in een van die beskuldigdes se besit gevind.
Kristien Kruger
Die twee mans wat beskuldig word van die moord op mnr. Daniele Ferrari, wat in 2020 by Avisdam in Windhoek vermoor is, se selfoonrekords bewys dat hulle ten tyde die aanval by die dam was. Ferrari se persoonlike besittings is ook in hul besit gevind.

Mnre. Kefas Iileka en Johannes Shetunyenga se borgtogaansoek het vandeesweek in die Windhoekse landdroshof begin en gister het die hoofondersoekbeampte getuig.

Volgens hom word die twee verdagtes verbind met Ferrari se moord asook ’n geval van roof met verswarende omstandighede ’n paar dae voor die moord ook by die dam plaasgevind het.

Die moord op Ferrari het op 14 Julie 2020 plaasgevind en skokgolwe deur die gemeenskap gestuur. Hy is eers by die damwal aangeval waarna twee drawwers hom te hulp gesnel het, maar ook aangerand is.

Ferrari het daarna na sy voertuig probeer vlug, maar is agterna gesit. Sy liggaam is later die aand met pangawonde aan die kop en verskeie messteke aan sy liggaam in sy motor by die dam se parkeergebied deur ‘n familielid ontdek.

Iileka en Shetunyenga is op 24 November 2020 in hegtenis geneem, maar bring nou eers ’n formele aansoek om borgtog omdat hulle voorheen nie regsverteenwoordiging gehad het nie.

OORLEDENE SE GORDEL, BEURSIE GEVIND

Nadat die polisie op die mans se spoor gevolg het, het hulle ’n lasbrief bekom om hulle selfoonrekords by Mobile Telecommunications Limited (MTC) te kry. Die rekords het betoon dat hulle op 10 Julie, die dag van die eerste rooftog by die dam, en 14 Julie rondom die tyd van die aanvalle by Avisdam was.

Die polisie het Iileka se kamer deursoek en daar het hulle die oorledene se gordel en beursie gevind. Ferrari se vrou het bevestig dat dit wel haar man s'n is. Sy het dit glo vir hom vir sy verjaarsdag gegee.

Die inspekteur het verder getuig beide beskuldigdes het bekentenisse voor ’n landdros afgelê waarin hulle skuld erken het.

Volgens die staatsaanklaer, mnr. Rowan van Wyk, beweer altwee mans dat hulle deur polisiebeamptes gedwing is om die bekentenis te maak.

“Hulle beweer dat die polisie hulle aangerand en gedwing het om die bekentenisse af te lê. Hulle is glo voorgesê wat hulle vir die landdros moet sê,” het Van Wyk verduidelik.

Die inspekteur het dit ontken.

Volgens die bekentenis het Iileka Ferrari eerste met ’n panga geslaan. Ferrari het terug baklei en Iileka glo omgeslaan. Iileka het toe glo vir Shetunyenga geskree dat hy hom moet help, waarna hy Ferrari glo met ’n mes gesteek het.

Volgens die nadoodse ondersoek het Ferrari weens bloedverlies beswyk.

Sy gordel, beursie, horlosie en selfoon was gesteel.

Die horlosie is later by Iileka se neef gekry en die selfoon is nooit gevind nie.

Die mans staan tereg op klagte van moord, aanranding, poging tot moord, diefstal en regsverydeling.

UITGESTEL

Die beskuldigdes se verteenwoordigers was nie gereed om met kruisondervraging voort te gaan nie en die saak is tot 1 Augustus uitgestel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer