Foto Argief
Foto Argief

Black Africa se tweespalt uitgeklaar

'Grondwet van 2020 geldig’
Die hof het beslis dat Okeri Mbingeneeko – wat die saak namens Black Africa aanhangig gemaak het – nie die wettige voorsitter is nie.
Kristien Kruger
Ná 'n langdradige toutrekkery tussen twee faksies van die bekende Black Africa-sportklub se leierskap, het die hof vandeesmaand uitspraak gelewer oor wie die wettige voorsitter en uitvoerende komitee van dié klub is.

Die hof het beslis dat Okeri Mbingeneeko – wat die saak namens Black Africa aanhangig gemaak het – nie die wettige voorsitter is nie.

Die hofsaak het gevolg nadat verskeie wedstryde van die klub uitgestel is aangesien twee verskillende Black Africa-spanne vir wedstryde opgedaag het. Die Namibiese sokkervereniging het Mbingeneeko se “Black Africa”-span ook verlede jaar uit die Southern Stream First Division (SSFD)-liga geskors.

Mbingeneeko het Thomas Adams hof toe gesleep, wat aangevoer het dat hy die klub se waarnemende voorsitter is.

Sylvester Goraseb, Dralli Titus, Willie Anton van Wyk en Helmuth Hochobeb is ook as respondente gelys omdat hulle lede van die ander uitvoerende komitee is.

Mbingeneeko het aangevoer dat hy en sy komitee die wettige leiers van die klub is en dat die ander komitee onwettig die “Black Africa”-naam gebruik.

Adams het beweer dat Mbingeneeko homself valslik as die voorsitter van Black Africa voorgedoen het en dat hy en sy raadslede nog altyd in beheer van Black Africa se sake was.

Die hoërhof in Windhoek het Mbingeneeko se aansoek van die hand gewys en beveel dat hy Thomas, Goraseb, Titus en Van Wyk se regskostes moet betaal.

Volgens hofstukke het die klub in November 2020 met sy stigting as 'n vrywillige vereniging, 'n geskrewe grondwet gehad. Daar was bewerings dat die klub in Mei 2023 'n nuwe grondwet aangeneem en nuwe leierskap verkies het. Die hof moes beslis watter een die geldige grondwet was en gevolglik watter faksie in beheer en bestuur van sake en die klub se bates is.

Regter Herman Oosthuizen het beslis dat die 2020-grondwet die geldige een is en het daarmee Mbingeneeko se aansoek van die hand gewys. Volgens Oosthuizen was Mbingeneeko nie gemagtig om die aansoek namens Black Africa te bring nie.

Black Africa het vir jare in Namibië se premierliga gespeel en het talle seisoene as die kampioene van die liga weggestap.

Black Africa het egter in die 2022-’23-seisoen so swak gevaar dat die span na ’n laer liga gerelegeer is.

Mbingeneeko sê in sy verklaring dat Black Africa hul gelde betaal het om aan die SSFD-liga vir die komende seisoen deel te neem, maar was geskok om by hul eerste wedstryd op 25 November 2023 te sien dat ’n ander Black Africa-span se spelers opgedraf het.

Dié wedstryd teen die Latinos Football Club kon nie begin nie aangesien daar te veel spelers op die veld was. Sommige ondersteuners het onrustig geraak en die veld beset en die polisie is ingeroep om die situasie onder beheer te bring.

Mbingeneeko se Black Africa het op 12 Desember 2023 ’n brief van die SSFD ontvang om die sportklub in kennis te stel dat hulle uit die liga geskors is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!