Boervrou kry borgtog van N$10 000

‘Ons wil nie politiek by saak betrek nie’
In 'n verrassende wending het die staat gister nie me. Marieta Wilhelm se aansoek om borgtog teengestaan nie en is sy op borgtog vrygelaat.
Elvira Hattingh
Familie en vriende was gister verlig toe die 65-jarige me. Marieta Wilhelm, ná meer as twee weke in aanhouding, op borgtog vrygelaat is.

Die 65-jarige vroueboer van Fokshof, wat op 15 Maart die dood van die die 31-jarige Sakaria Kaandje veroorsaak het nadat hy haar na bewering vroegoggend net buite haar plaashuis aangerand het, is gister op borgtog van N$10 000 vrygelaat.

Die verrigtinge in die Grootfonteinse landdroshof is aanvanklik vertraag omdat ‘n staatsaanklaer nie beskikbaar was nie en reëlings vir ‘n alternatiewe staatsaanklaer getref moes word.

Landdros Stanley Tembwe het egter gelas Wilhelm moet op borgtog vrygelaat word, op voorwaardes dat sy haar reisdokumente inhandig, nie die land verlaat nie en ook nie aansoek vir nuwe reisdokumente sal doen nie.

Sy moet ook elke Vrydag by ‘n polisiekantoor aanmeld en die ondersoekbeampte in kennis stel as sy die Tsumeb-Grootfontein-Otavi-distrik verlaat.

Dit volg nadat die staat, anders as vantevore, aangedui het die omstandighede van die misdaad regverdig nie die weiering van borgtog nie en die staat dus nie borgtog sal teenstaan nie.

Mnr. Jan Wessels, Wilhelm se regsverteenwoordiger, het gesê hy is “verheug om van die staat se houding kennis te neem” en bygevoeg die staat se voorstel vir borg en borgvoorwaardes is regverdig.

NIE POLITIES

Wessels het ná die hofverrigtinge aan Republikein gesê hy verkies om nie politiek by dié saak te betrek nie.

“Ons het geweet wat ons regte is en wanneer ‘n persoon wettig in hegtenis geneem kan word. Ons weet ook wat ons regte is as dit by ‘n aansoek om borgtog kom.

“Ons was gereed en het die aansoek binne die raamwerk van die reg hanteer. Die staat het ons in ‘n groot mate tegemoetgekom met hul nuwe houding vandag, waarvoor ons dankbaar is,” het Wessels gesê.

Hy het verduidelik die saak is vir verdere ondersoek uitgestel en wanneer dié ondersoek afgehandel is, sal die dossier aan die aanklaer-generaal se kantoor gestuur word. Dis hier waar ‘n besluit geneem sal word of Wilhelm aangekla sal word, wat die klagte sal wees en waar sy aangekla sal word – in die hoërhof of in die streekhof op Otjiwarongo.

Wilhelm het intussen groot steun vanuit Namibië, maar ook so ver as Suid-Afrika ontvang, met die aktivis teen plaasaanvalle, mnr. Willem Petzer, wat ‘n regshulpfonds vir haar gestig het en saam met die Bittereinders se Francois van der Merwe, gister se hofverrigtinge bygewoon het.

Altesaam sowat 40 lede van die publiek het ook die hofverrigtinge bygewoon om hul ondersteuning aan Wilhelm te wys. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer