Boorwerk het reeds begin, sê ReconAfrica

Verlof tot appèl van die hand gewys
Hoewel lede van die gemeenskap steeds poog om 'n interdik teen ReconAfrica te verkry om die boor van vier nuwe boorgate te verhoed, het boorwerk reeds begin.
Kristien Kruger
Reconnaissance Energy Namibia (ReconAfrica) staar tans twee hangende hofsake in die gesig.

Albei sake is deur lede van die gemeenskap in die Kavango Wes- en Oosstreek aanhangig gemaak en dié oliereus word in die hoërhof uitdaag.

In die een saak poog die Ncumcara se komitee vir die bestuur van gemeenskapswoude en drie ander om ’n dringende tussentydse interdik teen ReconAfrica te bekom om die voortsetting van petroleumeksplorasie te verhoed en die ander saak handel oor skade wat glo reeds aangerig is.

Ncumacara versoek ’n interdik teen ReconAfrica, die omgewingskommissaris en ses ander, hangende die finalisering van ’n aansoek om appèl wat hulle by die ministerie ingedien het.

In die aansoek poog hulle om die omgewingskommissaris se besluit om ReconAfrica se omgewingsklaringsertifikaat te wysig sodat dit die boor van nuwe boorgate insluit, te laat hersien.

Hulle beweer die nuwe boorgate sal onomkeerbare skade aan die gemeenskaplike gebiede aanrig.

ReconAfrica het egter in hofstukke aangedui dat die boorwerk vir dié boorgate reeds begin het.

“Die applikante het die aansoek gebring in 'n strategie om alle olie-eksplorasiebedrywighede van ReconAfrica eenvoudig te stop, ongeag of dit wettig is en gemagtig is deur die betrokke regeringsagentskappe wat die statutêre mag het om sodanige aktiwiteite goed te keur en te reguleer,” beweer die bestuurder van ReconAfrica, mnr. Robert Mwanochilenga, in hofstukke.

“Die applikante is nie reguleerders van olie-eksplorasie in Namibië of enige omgewingskwessies nie, maar hulle tree op asof hulle regulatoriese magte het.”

Mwanochilenga beweer verder dat die boor van die boorgate daagliks sowat U$30 000 beloop.

“Enige bevel om dié bedrywighede te staak, sal ’n groot finansiële impak hê.”

ReconAfrica beweer verder hulle is nie in die geografiese gebied van enige van die applikante se gemeenskapswoude of bewaringsgebiede werksaam nie.

‘SKADE NIE VOLDOENDE BEPAAL’

Ncumcara het ter ondersteuning van hul aansoek ’n verslag ingedien van ’n kenner wat die nagevolge van die voorgestelde eksplorasiebedrywighede ondersoek het.

Me. Susan Frances Brownlie is ’n omgewingsevalueringspraktisyn met byna 40 jaar se ondervinding en sy het die omgewingsimpakstudie (EIA) en -bestuursplan (EMP) vir olie-eksplorasie gefynkam.

“Ek kom tot die gevolgtrekking dat die potensiële skade van hierdie aktiwiteite nie voldoende bepaal is nie. Daarbenewens bied die EMP’s min gerusstelling dat die versagting van die skade en die bestuur daarvan doeltreffend sal wees om die skade te vermy of te minimaliseer.

“Na my mening verhinder die gebreke in die hersiene EIA’s en EMP’s om die potensiële skade van die boorwerk te voorspel, te bepaal, te evalueer en te versag,” lui die verslag.

Mnr. Sisa Namandje, wat vyf van die respondente verteenwoordig, beweer dat dié verslag nie bewys onomkeerbare skade sal aan die omgewing aangerig word indien die aktiwiteite sou voortgaan nie.

“Die verslag is van ’n algemene aard en is hoofsaaklik op hersiening en selfdienende kritiek op die EIA en EMP gerig. Dit het niks te make met die beweerde onomkeerbare skade nie,” beweer hy in hul hofstukke.

RESPONDENTE BAKLEI TERUG

Die argumente van die respondente sluit in dat nie een van die applikante glo die nodige regsbevoegdheid het om te litigeer nie. Hulle voer verder aan dat die respondente nie genoeg tyd gehad het om behoorlik op die aansoek te reageer nie en bevraagteken ook die dringendheid van die saak.

“Die applikante was roekeloos in die wyse waarop hulle die aansoek gebring het. Dit is duidelik dat die applikante genoegsame tyd gehad het om hul beëdigde verklaring voor te berei en het nie dieselfde vir die respondente gegun nie,” lui die hofstukke van die vyf respondente wat Namandje verteenwoordig.

Die meerderheid van die respondente voer ook aan dat die applikante nie ’n saak in hul stigtingsdokumente gemaak het.

“Die applikante het nie voldoende feite voor hierdie hof gebring om locus standi te bewys nie,” het ReconAfrica gesê en aangevoer die aansoek moet op grond daarvan van die hand gewys word.

Die agt respondente in die saak sluit in die omgewingskommissaris, adjunk-omgewingskommissaris, die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, die minister van myne en energie, die kommissaris van petroleumsake, die Nasionale Petroleumkorporasie van Namibië (Namcor) en ReconAfrica.

GEEN VERLOF TOT APPÈL

In die tweede saak beweer mnr. Andreas Sinonge, ’n inwoner van Mbambi in die Kavango-Oosstreek, dat die maatskappy sonder enige beraadslaging of vooraf kennisgewing die natuurlike woud en landerye op kommunale grond vernietig het om hul tweede toetsboorgat te boor.

Die saak is verlede jaar aanhangig gemaak en Sinonge eis ’n hofbevel om ReconAfrica van hul kommunale grond te verwyder en die gebied te rehabiliteer.

In dié saak beweer ReconAfrica dat regter Eileen Rakow partydig optree en het vantevore aansoek gedoen dat sy haarself van die saak moet onttrek.

Dié aansoek is van die hand gewys en ReconAfrica het onlangs ’n aansoek om verlof tot appèl ingedien om Rakow se beslissing in die hooggeregshof uit te daag, maar die aansoek is Dinsdag van die hand gewys.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer