Booys poog (weer) om borgtog te kry

Klagte van verkragting, bloedskande
Steve (Biko) Booys eis dat hy op borgtog van N$10 000 en streng voorwaardes vrygelaat moet word.
Kristien Kruger
Die voormalige Swapo-parlementslid en raadslid vir die Okahandja-kiesafdeling, Steve (Biko) Booys, wat van die verkragting van ’n familielid beskuldig word, het Maandag in die hoërhof in Windhoek verskyn in nóg ’n poging om op borgtog vrygelaat te word.

Booys wat teregstaan op twee klagte van verkragting, alternatiewelik bloedskande, appelleer teen ’n landdros op Okahandja se beslissing op 15 April 2021 om sy aanvanklike aansoek om borgtog van die hand te wys.

Die staat staan die appèlaansoek teen en beweer te veel tyd het reeds verloop sedert die uitspraak gelewer is.

“Ons voer aan die appellant [Booys] het in die betrokke saak jammerlik gefaal om ’n aanvaarbare rede te verskaf vir die vertraging van sowat twee jaar om sy appèlaansoek te bring. In sy aansoek om kondonasie stel hy dat die skuld vir die vertraging aan sy talle voormalige regsverteenwoordigers toegeskryf kan word,” sê die staatsaanklaer, Filistas Shikerete, in hofstukke.

Shikerete voer verder aan dat Booys se appèlaansoek nie duidelike en spesifieke gronde bevat het nie.

“Ons vra dat hierdie appèl van die rol geskrap word, aangesien die appellant in wese geen gronde vir appèl vasgestel het nie en dit dus geen kennisgewing van appèl voor hierdie hof is nie.”

Shikerete, Booys en Booys se verteenwoordiger, Marthino Olivier, het Maandag hul betoë voor regters Christie Liebenberg en Herman January gelewer.

ANDER AANSOEKE

Booys is in Februarie 2021 in hegtenis geneem en beweer dat landdros Khaepriums Swartz ’n fout begaan het deur nie sy aansoek om borgtog toe te staan nie en eis dat hy op borgtog van N$10 000 en streng voorwaardes vrygelaat moet word.

Sedert die weiering van sy eerste aansoek om borgtog, het Booys drie ander borgtogaansoeke op nuwe feite gebring wat ook van die hand gewys is. Hy appelleer tans teen die weiering van sy eie aansoek en het tesame met sy appèlaansoek, ’n aansoek om kondonasie ingedien omdat hy nie die aansoek binne die gepaste tydperk gebring het nie.

Hy voer verder aan Swartz het die belang onderskat van die grondwetlike beginsel om mense onskuldig te ag tot die teendeel bewys word en voer aan sy voortdurende aanhouding het ’n groot impak op hom en sy afhanklikes, asook sy besighede, werknemers en die gemeenskap.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!