• Tuisblad
  • Howe
  • Borgtog vir Tamson kan 'vertroue in regstelsel knou'

Borgtog vir Tamson kan 'vertroue in regstelsel knou'

Vier verdagtes moet nog uitgelewer word
Die hoofinspekteur van die Teenkorrupsiekommissie sal vandag vir die vierde dag in die getuienisbank wees en is tans onder kruisondervraging.
Kristien Kruger
“Die publiek het die indruk dat die howe mense in hoë posisies en mense met mag bevoordeel. Indien die beskuldigde [Tamson] op borgtog vrygelaat word, sal die publiek hul vertroue in ons regstelsel verloor.”

So sê die ondersoekbeampte van die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC), hoofinspekteur Andreas Kanyangela, wat vandeesweek in een van die Fishrot-beskuldigdes, mnr. Tamson (Fitty) Hatuikulipi, se aansoek om borgtog getuig.

Hatuikulipi se borgtogaansoek, wat op nuwe feite gebaseer is, het Maandag in die hoërhof in Windhoek hervat nadat dit in September uitgestel is.

Volgens Kanyangela het hy by sowat N$75 miljoen van die Fishrot-korrupsiegeld van N$317 miljoen gebaat en was hy ook die skakel tussen die Samherji-groep en die voormalige minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Bernard Esau.

UITLEWERING

Volgens Kanyangela is daar tans vier verdagtes wat nog nie in hegtenis geneem is nie.

Drie is in Ysland en die ander is mnr. Marén de Klerk wat na bewering tans in Suid-Afrika is.

“Stappe is reeds gedoen om dié verdagtes uit te lewer.

“Ons gaan egter nie vir hulle wag om met die verhoor voort te gaan nie. Die verhoor kan voortgaan met die beskuldigdes wat tans in aanhouding is. Die verdagtes wat nog uitgelewer moet word, sal apart verhoor word,” het Kanyangela gesê.

Kanyangela het ook getuig die verhoor sal nie lank duur nie indien vertragings vermy kan word.

Hatuikulipi se regsverteenwoordiger, adv. Richard Metcalfe, het tydens kruisondervraging daarop gewys dat Kanyangela nie ’n regsgraad of ervaring as ’n prokureur het nie en hy daarom nie in staat is om kommentaar te lewer oor die duur van die verhoor nie.

TAMSON GLO VLUGRISIKO

Kanyangela sê die risiko bestaan dat Tamson sal vlug indien hy borgtog toegestaan word.

Volgens hom het die beskuldigdes geld in ’n buitelandse rekening en twee van die beskuldigdes, mnre. James Hatuikulipi en Sacky Shanghala, is glo met selfone in die tronk betrap wat getoon het dat hulle ’n Google-soektog gedoen het oor uitlewerings vanaf Dubai.

“Dit is ’n duidelike aanduiding dat hierdie mense beplan om die land te verlaat wanneer borgtog toegestaan word.”

‘SKAKEL NA MINISTER’

“Volgens Jóhannes Stefánsson [hokaairoeper] het Samherji die beskuldigde [Tamson] betaal om hul verhouding met die minister te handhaaf,” het Kanyangela getuig.

Volgens die inspekteur was daar ’n e-pos waarin Samherji vir hom ’n dokument aangestuur het om vir sy skoonpa [Esau] te gee.

“Ek glo daardie dokumente het wel by die voormalige minister uitgekom, want die polisie het die oorspronklike dokument by sy huis gevind.

“Die applikant was die skakel tussen Samherji en die minister,” het Kanyangela gesê.

KRUISONDERVRAGING

Metcalfe het tydens kruisondervraging die betroubaarheid van die verslag deur Deloitte, waarop Kanyangela se getuienis grootliks gebaseer is, in twyfel getrek.

“Voor in die verslag is ’n vrywaring van die opstellers wat stel dat hulle nie die weergawes van die beskuldigdes gehoor het tydens die opstel van die verslag nie.

“Dit is daarom ’n eensydige verslag,” meen Metcalfe.

Metcalfe voer aan dat dit nie ’n ouditverslag genoem kan word nie en dit eintlik net ’n voorlopige verslag is.

Hy het verder aangevoer dat daar nie ’n dokument voor die hof is wat die ondersoekers toestemming gegee het om inligting van die beskuldigdes se toestelle te verkry nie.

Kanyangela het saamgestem.

Metcalfe sal vandag met kruisondervraging voortgaan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!