Botma-moordverhoor kom tot ’n einde

Slotbetoë eers volgende jaar
Nadat twee van die drie moordbeskuldigdes verlede week die getuienisbank ingeneem het, het die verdediging hul sake afgesluit.
Kristien Kruger
Die verhoor waarin drie mans teregstaan op die moord van ’n bejaarde egpaar – Giel (79) en Sarie Botma (80) – in 2018 op hul plaas sowat 5 km buite Koës, is Donderdag afgesluit met die getuienis van die derde beskuldigde. Die lewering van slotbetoë is egter eers vir 1 Februarie 2024 geskeduleer.

Die twee beskuldigdes wat gekies het om te getuig – Julius Frederick Arndt en Johannes Christiaan – het beide die dubbele moordklagte ontken.

Beide het toegegee dat hulle op 2 Februarie 2018 by die Botma-egpaar se huis was, maar het getuig dat hul nooit die egpaar gesien het nie.

Christiaan het glo buite gestaan terwyl Arndt en hul medebeskuldigde, Andries Afrikaner, na bewering deur die huis se venster geklim het om te kyk wat hulle kan steel.

Hoewel Christiaan buite gestaan het terwyl Arndt en Afrikaner die huis binnegegaan het, het hy getuig hy het nooit ligte sien aangaan of mense gehoor nie. Hy het glo later na die venster geloop en die ander twee mans geroep, maar hulle het hom na bewering nie geantwoord nie.

“Ek het besluit om terug te gaan Koës toe, want ek wou nie deel wees van dit wat daar gebeur het nie,” het Christiaan Donderdag getuig.

Volgens sy getuienis het hy later op dieselfde aand weer vir Afrikaner gesien en hy het glo vir hom gesê: “Ek het groot k** aangejaag.”

Afrikaner het by monde van sy regverteenwoordiger hierdie bewering ontken.

BEKENTENIS

Afrikaner sou na verwagting die tweede beskuldigde wees om die getuienisbank in te neem nadat Arndt Woensdag sy getuienis afgelê het, maar hy het Donderdag voor die verrigtinge sy verteenwoordiger in kennis gestel dat hy nie meer wil getuig nie.

Afrikaner het egter op 26 Junie 2018 ’n bekentenis in die teenwoordigheid van ’n landdros op Keetmanshoop afgelê.

In dié bekentenis het hy gesê dat Arndt glo voor hom by die venster ingeklim het terwyl hy besig was om die hond weg te jaag. Toe hoor hy glo twee geweerskote.

“Ek kyk toe deur die venster en sien die wit man lê op die grond. . . Julius Arndt het die vrou met ’n swart tou om haar nek gegryp. Hy het haar met die tou verwurg en ek het vir hom gesê om haar uit te los, maar hy het geweier,” lui die bekentenis.

Arndt het Woensdag getuig dat hy saam met Afrikaner die huis binnegegaan net, maar net die sleutels van die voertuig gesteel en met die egpaar se bakkie weggery het.

Giel is met sy eie .22-geweer geskiet en Sarie is verkrag en met skoenveters verwurg. Arndt en Afrikaner bly in aanhouding by Windhoek Sentrale Gevangenis en Christiaan is vry op borgtog.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!