Die moordbeskuldigde, Harvey Boutler. Foto Argief
Die moordbeskuldigde, Harvey Boutler. Foto Argief

Boulter sê Imalwa tree irrasioneel op

‘Daar is geen rede vir my vervolging’
Harvey Boulter het in Februarie die hoërhof genader in 'n poging om die aanklaer-generaal se besluit dat hy verhoor en vervolg moet word, tersyde te laat stel.
Kristien Kruger
“Die aanklaer-generaal se besluit moet tersyde gestel word aangesien sy irrasioneel opgetree het deur te besluit om my bloot te verhoor, met die hoop daar sal tydens die verhoor inkriminerende bewyse teen my na vore kom.”

So het die Britse miljardêr en moordbeskuldigde, Harvey Boutler, in ’n verklaring gesê in sy saak teen die aanklaer-generaal, Martha Imalwa, waarin hy poog om haar besluit om hom te verhoor op ’n klag van moord en ander klagte ingevolge die Wapen- en Ammunisiewet 7 van 1996, te hersien en tersyde te laat stel.

Boulter beweer daar is geen rede om hom te vervolg nie. Volgens hom is daar geen bewyse dat hy sy plaaswerker, Gerhard van Wyk sr., op 27 Februarie 2021 met opset geskiet het nie, en hy beweer die skoot het afgegaan midde ’n bakleiery terwyl Van Wyk sr. probeer het om Boulter se 9 mm-pistool by hom af te vat.

“Terwyl daar geen bewerings gemaak word dat ek myself doelbewus ernstig beseer het nie, word daar beweer dat ek Van Wyk opsetlik vermoor het toe hy deur ’n koeël getref is wat eers deur my linkerhand se palm gegaan en my ernstig beseer het,” lui die verklaring.

Boulter voer verder aan Imalwa was onredelik om hom van moord aan te kla omdat sy haar besluit geneem het sonder dat die ondersoek vasgestel het of Boulter die een was wat die skoot afgevuur het en of dit doelbewus was.

Hy verwys ook in sy verklaring na die inhoud van die dossier wat daarop dui dat Van Wyk se familie hom na die Outjo-kliniek geneem het, wat glo sowat 200 km vanaf die plaas geleë is, terwyl die Kamanjab-staatshospitaal nader was. Die familie het na bewering nie ’n ambulans of paramedikus van Kamanjab gebel nie, wat 35 km van die plaas af is.

“Hierdie onverskillige dade kon ook onnodig die lewensverlies van Van Wyk veroorsaak het,” beweer Boulter in sy verklaring.

Partye het gister voor regter Herman Oosthuizen in die hoërhof in Windhoek verskyn. Imalwa het reeds kennisgewing gegee van haar voorneme om die saak teen te staan, maar het nog nie ’n verklaring by die hof ingedien nie.

GEBEURE

Boulter verwoord ook die betrokke dag se gebeure in sy verklaring. Die voorval het glo tydens ’n sosiale geleentheid op sy plaas gebeur nadat ’n woordewisseling tussen hom en Gerhard van Wyk jr. omstreeks 19:30 ontstaan het. Van Wyk sr. het glo by die woordewisseling betrokke geraak.

“Ek het die 9 mm-pistool byna horisontaal oor my bors en plat voor my lyf in ’n voorverdedigingsposisie gehou terwyl ek die voorste deel van die loop met my linkerhand bedek het. Ek het geweet dit is ’n veiliger manier om ’n vuurwapen in ’n verdedigende posisie te hou wat daarop gemik is om ’n aanvaller af te weer. Hierdie fisieke postuur en verdedigingsmaneuver het my natuurlik blootgestel aan ’n aanval deur Van Wyk jr. en senior aangesien albei my hande op die vuurwapen was.”

Boulter beweer sy vinger was nie toe op die sneller nie.

“Hoewel ek nie die presiese besonderhede kan onthou nie, onthou ek dat Van Wyk sr. die pistool gegryp het waarna ’n skoot afgegaan het. Tot op hede weet ek nie presies hoe en hoekom die skoot afgegaan het nie.”

Boulter sê in sy verklaring hy het ná die skoot afgevuur is besef dit het deur sy linkerhand se palm gegaan. Hy was glo in skok en uiterste pyn.

“Iemand het genoem Van Wyk sr. is ook beseer. Ek het nie die presiese aard van sy besering geweet nie, aangesien ek myself van die grond af moes optel terwyl hy, sover ek kan onthou, saam met ander familielede van die toneel weggeloop het.”

“Om die waarheid te sê, dit sou vir my bisar wees as ek van plan was om Van Wyk sr. te vermoor met wie ek ’n jarelange goeie verhouding gehad het en aangesien hy nie die aanval teen my begin het nie.”

Wyle Van Wyk se vrou, Alta, sy seun Gerhard, skoondogter Liani en dogter Michelle het ook ná die voorval ’n siviele saak teen Boulter aanhangig gemaak waarin hulle skadevergoeding eis.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!