• Tuisblad
  • Howe
  • Boulter wag op uitspraak in saak oor sy vervolging
Harvey Boulter (links) en een van sy regsverteenwoordiger, Kadhila Amoomo. Foto Kristien Kruger
Harvey Boulter (links) en een van sy regsverteenwoordiger, Kadhila Amoomo. Foto Kristien Kruger

Boulter wag op uitspraak in saak oor sy vervolging

Kristien Kruger
Die hoërhof sou Vrydag uitspraak lewer in die saak waarin die Britse miljardêr, Harvey Boulter, poog om sy vervolging vir moord tersyde te laat stel, maar die uitspraak is tot 5 Julie uitgestel.

Regter Herman Oosthuizen het Vrydag in die hoërhof in Windhoek die partye ingelig dat die uitspraak nog nie gereed is nie.

Boulter het die saak teen die aanklaer-generaal, Martha Imalwa, gemaak en beweer in sy verklaring dat daar geen rede was vir die besluit dat hy op onder andere ’n moordklag vervolg moet word nie.

Volgens hom is daar geen bewyse dat hy sy plaaswerker, Gerhard van Wyk sr., op 27 Februarie 2021 met opset geskiet het nie. Hy beweer die skoot het afgegaan midde ’n bakleiery terwyl Van Wyk sr. probeer het om Boulter se 9 mm-pistool by hom af te neem.

Hy eis daarom dat Imalwa se besluit om hom te vervolg op ’n aanklag van moord en ander klagte ingevolge die Wapen- en Ammunisiewet 7 van 1996, hersien en tersyde gestel moet word.

Imalwa beweer egter dat sy tot die gevolgtrekking gekom het nadat sy al die bewyse bestudeer het wat in die verklarings en dokumente vervat is, asook dit wat in die borgtogverrigtinge aan die lig gekom het.

“Die aansoeker [Boulter] is hoogs selektief en verwys na ’n klein gedeelte van die beskikbare bewyse. Hulle lê ’n saak voor sonder al die bewyse waarop die aanklaer-generaal gesteun het in haar besluit,” lui Imalwa se betooghoofde.

Sy hou verder vol dat sy redelik opgetree het in haar besluit en dat daar voldoende feite was waaruit ’n redelike persoon kon aflei dat Boulter die misdaad waarvan hy aangekla is, gepleeg het.

‘DIT WAS NIE DOELBEWUS NIE’

Een van die aspekte waarop Boulter se saak grootliks gesteun het, is die bewering dat die koeël wat Van Wyk sr. getref het, eers deur sy linkerhand se palm gegaan het.

“Terwyl daar geen bewerings gemaak word dat ek myself doelbewus ernstig beseer het nie, word daar beweer dat ek Van Wyk opsetlik vermoor het,” lui sy verklaring.

Hy meen verder dat Imalwa haar besluit geneem het sonder bewyse dat hy die een was wat die skoot afgevuur het of dat hy dit doelbewus gedoen het.

AGTERGROND

Die betrokke skietvoorval het glo tydens ’n sosiale geleentheid op sy plaas gebeur nadat ’n woordewisseling tussen hom en Gerhard van Wyk jr., die oorledene se seun, ontstaan het. Van Wyk sr. het glo by die woordewisseling betrokke geraak.

“Hoewel ek nie die presiese besonderhede kan onthou nie, onthou ek dat Van Wyk sr. die pistool gegryp het waarna ’n skoot afgegaan het. Tot op hede weet ek nie presies hoe en hoekom die skoot afgegaan het nie,” beweer Boulter in sy verklaring.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!