'Boulter wil keer dat die hof ons aanhoor’
In die saak waarin die familie van wyle Gerhard van Wyk – wat na bewering deur die Britse miljardêr Harvey Boulter doodgeskiet is – miljoene eis, het Boulter ’n aansoek gebring dat elke lid van die familie sekuriteit aan die hof moet betaal.
Boulter word beskuldig van die moord op Van Wyk op 27 Februarie 2021. Van Wyk, wat ten tyde van sy moord as bestuurder op Boulter se plaas gewerk het, se vrou, twee kinders en skoondogter het verlede jaar ’n siviele saak teen Boulter aanhangig gemaak waarin hulle altesaam sowat N$84,5 miljoen in skadevergoeding eis.
Partye het Dinsdag in die hoërhof in Windhoek verskyn en die saak is tot 19 April uitgestel waartydens Boutler se aansoek om sekuriteit vir kostes (“security of costs”) aangehoor sal word.
SEKURITEIT VIR KOSTE
Boulter het einde verlede jaar ’n aansoek ingedien waarin hy vra dat Van Wyk se vrou Alta, hulle kinders, Gerhard (jr.) en Michelle, asook hul skoondogter Liani, tussen N$300 000 en N$350 000 as sekuriteit moet betaal.
Die doel van ’n aansoek om ’n bevel vir sekuriteit vir kostes, is om die verweerder in ’n regsgeding die gemoedsrus te gee deur die eiser te dwing om ’n vaste bedrag aan die hof te betaal.
Dié kostebevele dien as beskerming vir verweerders met ’n regmatige kommer dat ’n eiser nie in staat sal wees om sy regskoste te dek nie indien die eiser se aansoek misluk nie.
Die Van Wyk-gesin betwis die aanspreeklikheid om dit te betaal.
“Die bedrag wat die verweerder aanvra, is gebring in ’n poging om te keer dat die eiser deur hierdie hof aangehoor word en skend hul grondwetlike regte,” beweer die Van Wyk-gesin.
VERTRAGING
Die saak sal vir die volgende drie maande stilstaan omdat die Van Wyk-gesin se prokureur met kraamverlof is.
Die uitstel volg ná partye op 6 September 2022 vir bemiddeling, wat deur die hof gefasiliteer is, vergader het. Dié bemiddeling was onsuksesvol.
Alta, Gerhard (jr.), Michelle en Liani beweer in hofstukke dat hulle die noodlottige skietvoorval op 27 Februarie 2021 op Boulter se plaas aanskou het.
“Die eerste verweerder [Boulter] het die tweede eiser [Gerhard van Wyk jr.] aangeval en dit het in ’n stoeiery ontaard. Die oorledene het probeer om die eerste verweerder [Boulter] te keer, waarna hy sy vuurwapen uitgehaal en hom geskiet het.”
Die oorledene is op pad hospitaal toe, wat 200 km weg was, aan sy skietwond dood.
Alta eis sowat N$50 miljoen, insluitend sowat N$33 miljoen vir verlies aan ondersteuning; N$16 miljoen vir algemene skadevergoeding; verlies aan inkomste en ’n vrystelling van haar dienskontrak en betaling van N$137 500; N$1 miljoen vir ondraaglike lewensomstandighede ná die voorval en N$24 500 vir vervoerkoste en begrafnisuitgawes.
Die oorledene se seun, Gerhard (jr.), eis altesaam N$22,7 miljoen vir algemene skadevergoeding, verlies aan ondersteuning en ondraaglike lewensomstandighede ná die voorval.
Die oorledene se dogter eis N$8 miljoen en sy skoondogter N$3,9 miljoen weens dieselfde redes.
Die algemene vergoeding verteenwoordig, volgens die eis, die emosionele trauma, skok, pyn en lyding wat die familie moes verduur toe hul moes aanskou hoe die oorledene geskiet is en hul pogings om sy lewe te red.
Die strafregtelike saak teen Boulter is steeds in ’n voorverhoorfase in die hoërhof in Windhoek en hy is tans vry op borgtog.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie