Brandmoord: ‘Sy was in baie pyn’

Twee verpleegsters getuig
Ná twee getuies gister vlugtig die getuienisbank ingeneem het, het die staat versoek dat die saak tot vandag uitgestel word.
Kristien Kruger
Twee verpleegsters het gister in ’n man van Ariamsvlei se verhoor getuig wat na bewering sy meisie en 13 maande oue baba in Desember 2020 aan die brand gesteek het.

Een van die verpleegters het die meisie se brandwonde behandel en het getuig dit was nie die beskuldigde, mnr. Manfred Links, wat haar hospitaal toe gebring het nie, maar ’n familielid.

Die baba was volgens haar die oggend ná die voorval, op 2 Januarie 2020, ingebring. Die insident het op 1 Januarie omstreeks 22:00 gebeur.

Die familielid het glo vir die verpleegster gesê die kind se pa het petrol oor haar en haar ma gegooi en hulle aan die brand gesteek.

Die familielid – wat Maandag getuig het – het aan die hof gesê Links het die baba by haar gelos die oggend nadat hy haar vertel het dat hy sy meisie, me. Michelle Roelph, met die baba in haar arms aan die brand gesteek het.

Die familielid het Maandag getuig sy het tóé eers die wonde op die baba se linkervingers en voet gesien. Die verpleegster het wel getuig die wonde was aan die baba se regtervingers en voet.

Links se regsverteenwoordiger, mnr. Milton Engelbracht, het dié teenstrydigheid tydens kruisondervraging uitgewys.

Die ander verpleegster wat gister getuig het, het vir Roelph behandel toe sy by die hospitaal in Karasburg opgeneem is.

Volgens haar was 81% van Roelph se liggaam met ernstige brandwonde bedek.

“Of sy gesit of gelê het, sy was in baie pyn en was baie rusteloos,” het die verpleegster getuig.

Roelph is op 12 Januarie dood.

UITGESTEL

Die verhoor is gisteroggend tot vandag uitgestel nadat slegs twee getuies vlugtig aangehoor is.

Die staatsaanklaer het aangedui dat hy slegs twee getuies kon reël vir gister se verrigtinge in die hoërhof in Windhoek en het versoek dat die saak uitgestel word.

Twee staatsgetuies het glo gister vanaf Keetmanshoop na Windhoek gereis om vandag te getuig.

Links staan tereg op een klag van moord en twee klagte van poging tot moord en is tans in aanhouding in Windhoek Sentrale Gevangenis.

Die saak duur vandag voort.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!