Kazana Hausiku (31) is vir meer as 37 jaar tronk toe gestuur. Foto Kristien Kruger
Kazana Hausiku (31) is vir meer as 37 jaar tronk toe gestuur. Foto Kristien Kruger

Bylmoordenaar kry strawwe vonnis

Moord, verkragting, ontvoering
Die man wat 'n boer met 'n byl vermoor en sy vrou verkrag en ontvoer het, het 'n strawwe vonnis gekry.
Kristien Kruger
Die plaaswerker wat ’n boer grusaam met ’n byl vermoor en daarna sy vrou verkrag en ontvoer het, is gister tot 37 jaar en ses maande tronkstraf gevonnis.

Kazana Hausiku het die 59-jarige boer in November 2018 op sy hervestigingsplot in die Otjimbingwe-omgewing naby Karibib vermoor.

Hierna het hy na die egpaar se huis gegaan en die oorledene se vrou met ’n panga gedreig en haar verkrag. Hy het sommige van die egpaar se besittings in hul kar gelaai en die vrou gedwing om by die passasierskant in te klim.

Hy het die voertuig sonder ’n bestuurslisensie bestuur en het die voertuig op die grondpad laat omslaan. Die vrou het daarin geslaag om weg te vlug en is later deur ’n verbyganger gevind en na die hospitaal geneem.

VONNISOPLEGGING

Op die klag van moord het regter Naomi Shivute hom tot 21 jaar tronkstraf gevonnis; op die klag van verkragting het hy 10 jaar gekry en vir ontvoering twee jaar tronkstraf.

Shivute het hom op die klag van roekelose bestuur tot 18 maande tronkstraf gevonnis.

Vir die klag van diefstal met verswarende omstandighede is ses jaar tronkstraf opgelê met drie jaar wat samelopend met die vonnis vir die klag van moord uitgedien sal word.

Hausiku is ook vir die bestuur van ’n voertuig sonder ’n bestuurslisensie tot vier maande tronkstraf gevonnis, maar dié vier maande sal samelopend met die vonnis vir roekelose bestuur uitgedien word.

Hoewel 40 jaar en tien maande opgelê is, is Hausiku effektief tot 37 jaar en ses maande gevonnis.

“’n Vonnis moet nie meer as die beskuldigde se lewensverwagting wees nie en daarom sal die hof sommige van die vonnisse samelopend uitgedien laat word,” het Shivute in haar uitspraak gesê.

BEROU

Shivute het uitgewys dat Hausiku gekies het om nie die getuiebank in te neem om ter versagting van sy vonnis te getuig nie, maar bloot by monde van sy verteenwoordiger, mnr. Salomon Kanyemba, gesê het hy berou sy optrede en dat hy jammer is vir wat hy gedoen het.

“Opregte berou moet direk van die beskuldigde kom en die hof sal daarom min gewig aan sy beweerde berou heg,” het Shivute in haar uitspraak gesê.

‘GEEN RESPEK VIR DIE WET’

Die 31-jarige Hausiku is tevore op ’n klag van dwelmbesit skuldig bevind en beweer dat hy op die dag van die moord dagga gerook het en nie heeltemal homself was nie.

“Die beskuldigde is duidelik iemand wat geen respek vir die wet het nie,” lui die uitspraak.

Shivute het gesê die hof sal nie in ag neem dat Hausiku onder die invloed van dwelms was ten tyde van die moord nie, omdat geen bewyse ten opsigte hiervan gelewer is nie; dis bloot tydens finale betoë voor vonnisoplegging vlugtig genoem.

Die oorledene se vrou het vir die staat getuig tydens finale betoë vir ’n strawwer vonnis en het gesê Hausiku het haar waardigheid geskend. Sy ondergaan steeds sielkundige behandeling en sukkel om die grusame gebeure van daardie dag te verwerk.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!