• Tuisblad
  • Howe
  • Craft Bistro-bestuurder bly (vir nou) in die land

Craft Bistro-bestuurder bly (vir nou) in die land

Illing trek saak teen ministerie terug
Die ministerie het toestemming aan Petra Illing gegee om in die land aan te bly, hangend haar aansoeke vir 'n korttermynwerkspermit en permanente verblyf.
Kristien Kruger
Craft Bistro se bestuurder, Petra Illing, het haar saak teen die minister van binnelandse sake, immigraise, veiligheid en sekuriteit teruggetrek, nadat partye ’n skikkingsooreenkoms onderteken het.

Illing is twee weke gelede deur immigrasiebeamptes ondervra, omdat sy glo sonder ’n visum in die land gewerk en 'n besigheid onwettig bedryf het. Sy is daarna 48 uur gegee om Namibië te verlaat.

Dít het aan die lig gekom toe werknemers by Craft Bistro betoog het oor swak behandeling en beweer het hulle is nie betaal is vir werk wat in November verlede jaar gelewer is nie.

In haar verklaring het Illing haarself as ’n sakevrou beskryf wat sedert 1994 in Namibië woon. Sy beskou Namibië as haar permanente woning.

DRINGENDE AANSOEK

Illing het op 13 Januarie ’n dringende aansoek by die hoërhof in Windhoek ingedien waarin sy die hof versoek om die ministerie en die voorsitter van die immigrasie-keurraad te beveel om ’n korttermynwerksvisum uit te reik totdat haar aansoek vir ’n permanente verblyfspermit afgehandel is.

Sy het ook ’n interdik teen die ministerie en keurraad gevra wat hulle verbied om haar in hegtenis te neem of aan te hou terwyl sy wag op die afhandeling van haar aansoek.

Illing het wel op 25 Januarie die dringende aansoek teruggetrek nadat sy en die ministerie ’n ooreenkoms bereik het.

OOREENKOMS

Volgens die ooreenkoms moes Illing die saak teen die ministerie laat vaar en die ministerie sal sy besluit dat Illing Namibië binne 48 uur moet verlaat, ook terugtrek.

Die ministerie en keurraad het verder ingestem om Illing nie in hegtenis te neem terwyl haar aansoek om permanente verblyf hangend is nie.

Illing se aansoek vir ’n korttermynwerkspermit, wat aanvanklik op 20 Desember 2022 afgekeur is, sal herevalueer word. Evaluering van dié aansoek sal volgens die ooreenkoms voor 8 Februarie afgehandel word.

Die ministerie en keurraad het ook aangedui Illing se aansoek vir permanente verblyf sal voor 31 Maart oorweeg sal word.

TWEEDE SKIKKINGSOOREENKOMS

Illing en die ministerie het ook verlede jaar ’n skikkingsooreenkoms onderteken nadat Illing ’n hersieningsaansoek by die hof aanhangig gemaak het omdat haar aansoek vir die hernuwing van haar werkspermit afgekeur is.

Sy het in 2017 ’n hersieningsaansoek by die hof aanhangig gemaak, maar het dit in 2022 teruggetrek nadat partye ’n skikkingsooreenkoms onderteken het.

Ingevolge die ooreenkoms moes Illing binne drie maande ’n aansoek vir ’n werkspermit en permanente verblyfspermit bring wat deur die keurraad oorweeg sou word.

Kort daarna is ’n korttermynwerkspermit aan haar uitgereik wat in Augustus verval het. Volgens haar verklaring kon sy nie in hierdie tydperk aansoek vir permanente verblyf doen nie, omdat sy glo baie siek was en na Duitsland moet terugkeer om dokumente daar te gaan haal.

Sy het weer aansoek gedoen vir ’n korttermyn-werkspermit wat goedgekeur is en op 1 November 2022 verval het.

Op 11 November het sy haar aansoek om permanente verblyf ingedien en het weer aansoek vir ’n korttermynwerkspermit gedoen, hangend die oorweging van haar permanente verblyfaansoek. Die korttermynwerkspermit is wel afgekeur, waarna Illing op 11 Januarie die kennisgewing gekry het dat sy die land binne 48 uur moes verlaat.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!