Azaan Madisia het gister (Maandag) in die hoërhof op Windhoek getuig oor haar naast ontmoeting met Wasserfall. Foto Iréne-Mari van der Walt
Azaan Madisia het gister (Maandag) in die hoërhof op Windhoek getuig oor haar naast ontmoeting met Wasserfall. Foto Iréne-Mari van der Walt

‘Darlikie, moenie grappies maak’

Azaan Madisa getuig in Wasserfall-moordsaak
Een van die beskuldigdes in Shanon Wasserfall se moord het gister getuig oor haar finale ontmoeting met Wasserfall wat glo tot haar dood gelei het.
Iréne-Mari van der Walt
Tydens die moordverhoor waarin Azaan Madisia en Steven Mulundu van die moord op Shanon (Darlikie) Wasserfall aangekla word, het Madisia gister die getuiebank ingeneem.

Volgens Madisia het sy en Wasserfall se kêrel, Peter Shoopala, wel ’n verhouding van ’n seksuele aard gehad tydens sy romantiese verhouding met Wasserfall.

Sy het getuig dat Shoopala hierdie ontmoetings gestaak het en gesê het hy wil aan sy verhouding met Wasserfall werk.

“Ek het hom ondersteun en was redelik bly hy het ’n besluit geneem oor wat hy wil doen,” het sy voor regter Christie Liebenberg getuig.

Madisia het haar seksuele verhouding met Shoopala in Februarie 2020 as ’n “oomblik van swakheid” beskryf.

Sy het verder getuig sy het in Februarie 2020 – nadat Shoopala hulle aan mekaar voorgestel het – van Shanon begin hou. Madisia het aan die hof gesê sy het nooit haar en Shoopala se seksuele ontmoetings met Wasserfall gedeel nie omdat dit “vernederend” sou wees. Sy het ook aangevoer sy het geglo dat Shoopala die situasie moes hanteer. Wasserfall het glo nooit bewaar gemaak teen Madisia se verhouding met Shoopala nie.

FINALE ONTMOETING

Madisia het ook getuig oor haar finale ontmoeting met Wasserfall, wat na bewering tot laasgenoemde se dood gelei het.

Volgens Madisia het sy en Wasserfall op die noodlottige dag gekuier en Wasserfall het glo haar horlosie afgehaal om skottelgoed te was.

“Sy het vir haarself aarbeilikeur gekry om te drink. Ons het albei van die likeur en later wyn begin drink,” het Madisia getuig.

Sy het glo later voorgestel dat sy Wasserfall huis toe neem.

“Sy het redelik ontsteld gelyk. Ek het haar gevra wat fout is en sy het gevra hoekom dinge so moes wees. Sy het gesê sy is alewig die een wat dinge moet doen en by die huis moet bly,” het Madisia getuig.

Wasserfall het glo vir Madisia gevra hoekom Shoopala met bewondering na haar kyk.

“Ek het vir haar gesê: ‘Kom ons doen nie nou hierdie nie’ – dit was laat, ons albei het gedrink en ek moes haar huis toe vat,” het Madisia getuig.

Wasserfall het volgens Madisia ’n wynbottel in haar hand gehad en toe Madisia probeer het om die bottel uit haar hand te neem, het Wasserfall glo geïrriteerd geraak.

Madisia het getuig dat Wasserfall haar toe gestoot het. Sy het gesê hulle het mekaar verskeie kere rondgestoot voordat sy vir Wasserfall oor die bed gestoot en dié glo haar kop gestamp het.

“Ek het gedog sy maak ’n grap. Ek het vir haar gesê: ‘Darlikie, moenie grappies maak nie.’ Ek het haar pols gevoel, maar ek kon nie ’n polsslag voel nie. Ek het twee vingers onder haar neus gehou om te voel of sy asemhaal, maar ek kon nie haar asemhaling voel nie.”

SKULDGEVOELENS

Madisia het getuig dat sy na die voorval skuldgevoelens ontwikkel het en dit gelei het tot die boodskap wat sy aan verskeie mense, onder andere Shoopala, gestuur het wat die polisie na die vlak graf gelei het waarin Madisia en Mulundu glo vir Wasserfall begrawe het.

“Ek het die heeltyd prentjies van dit wat gebeur het in my kop gesien. Ek het na Junior (Wasserfall se seun gekyk) en die heeltyd gedink sy ma is nie meer daar nie. Ek het geweet haar ouers wonder wat met hulle kind gebeur het en ek het gedink hoe my ouers sou gevoel het as die situasie omgekeer was,” het Madisia getuig.

Madisia se regsverteenwoordiger, Albert Titus, sal na verwagting vandag voorgaan met ondervraging voor die staat met kruisondervraging sal begin.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!