Dausab trek ‘pynlike’ volksmoord-parallel
Elizabeth Kheibes en Iréne-Mari van der Walt – Die minister van justisie, Ivonne Dausab, het ’n parallel getrek tussen die Duitse volksmoord op die Nama- en Herero-mense in 1904, waar tussen 24 000 en 100 000 Herero’s en 100 000 Nama-mense gesneuwel het, en Israel se oorlog tans teen die Palestyne in die Gasastrook.
Dausab het gister namens Namibië gepraat by die verhore wat deur die Internasionale Geregshof (Wêreldhof) in Den Haag, Nederland, gehou is om die regsgevolge van Israel se beleid en praktyke in die besette Palestynse gebiede te ondersoek.
Tydens haar toespraak het Dausab Duitsland daarvan beskuldig dat hy “die eerste volksmoord van die 20ste eeu begin het” en gesê Namibië het eerstehandse ondervinding in besetting, kolonialisme, sistematiese diskriminasie en apartheid.
Hierdie geskiedenis gee volgens die minister aan Namibië ’n “morele verantwoordelikheid” om te praat oor Israel se besetting van Palestina.
“Die parallel tussen Namibië en Palestina is treffend en pynlik. Albei was integrale dele van die mandaatstelsel wat ná die Eerste Wêreldoorlog tot stand gebring is en in beide gevalle is die sogenaamde heilige vertroue van die beskawing, wat daarop gemik was om hierdie nasies na selfbeskikking en onafhanklikheid te lei, heeltemal verraai.
“In plaas daarvan om selfregering te bewerkstellig, het beide Namibiërs en Palestyne die verlies van menswaardigheid, lewens, vryheid en die volslae diefstal van hul grond en natuurlike hulpbronne gely,” het Dausab gesê.
Sedert Oktober 2023 het die nuusagentskap Al Jazeera berig dat minstens 29 782 mense dood en 70 043 gewond is in Israeliese aanvalle op Gasa.
“Die geleefde werklikheid van die mense van Palestina roep pynlike herinneringe op vir baie Namibiërs van my generasie. Ons doen weer eens ’n beroep op u om die historiese en voortdurende onreg te beëindig deur die fundamentele regte van ’n onteiende volk te handhaaf wat 57 jaar van ’n versmorende besetting verduur het,” het sy gesê.
Die prokureur prof. Phoebe Okowa het ook gister tydens dieselfde geleentheid ’n beroep op die Wêreldhof gedoen om duidelikheid oor die definisie van apartheid te verskaf. Sy het aangevoer dat Israel se besetting van Gasa ’n vorm van apartheid is.
“Ons het feitlik geen duidelikheid ontvang buiten die spesifieke omstandighede in Suider-Afrika nie. ’n Raadgewende mening oor die drumpel van apartheid sal dus die algemene vergadering help met betrekking tot sy eie optrede,” het sy gesê.
Namibië deel ander deelnemers se standpunt dat die definisie in Artikel 2 van die Apartheidskonvensie, drie sleutelelemente insluit met betrekking tot die oortreding van die algemene internasionale reg.
Eerstens moet die staat betrokke wees by een of meer “onmenslike dade”.
Tweedens moet hierdie onmenslike dade gerig wees teen ’n “rassegroep” of sy lede.
Ten slotte, die staat moet hierdie onmenslike dade pleeg “met die doel om oorheersing deur die een rassegroep oor die ander te vestig en te handhaaf” en hulle “stelselmatig te onderdruk”.
“Dit is duidelik uit die beskikbare bewyse dat hierdie diskriminerende praktyk nie toevallig is nie, maar dat dit ontwerp is vir die spesifieke doel om die Jode bo die Palestyne te bevoordeel. . . Soos uitgelig deur ander deelnemers, is hierdie beleide en praktyke daarop gemik om die Palestynse volk te verdeel,” het Okowa gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie