Diamantmaatskappy se werkers nog nie betaal
Ontevrede werknemers van Sperrgebiet Diamond Mining (SDM) naby Lüderitz het hul misnoeë uitgespreek nadat hulle nog nie hul salarisse ontvang het nie.
Volgens SDM se waarnemende uitvoerende hoof, Abraham Grobler, het die maatskappy gedurende die maand van April ’n onvoorsiene vertraging in ’n internasionale fondsoorplasing ervaar, wat gelei het tot ’n vertraging in die betaling van salarisse.
“Die maatskappy betreur die vertraging opreg en poog om die situasie so gou as moontlik reg te stel. Ons verstaan ten volle die ongelukkigheid wat deur hierdie situasie veroorsaak word,” het Grobler aan Republikein gesê.
Volgens ’n bron, wat verkies om anoniem te bly uit vrees om hul werk te verloor, word van die werknemers vereis om ’n dokument te onderteken waarin hulle instem om nie inligting oor hul salarisse te deel nie.
Die bron beweer verder dat hulle die maatskappy gevra het vir briewe om aan die bank en aan hul kinders se skole te gee om die situasie te verduidelik. Dié versoek is na bewering van die hand gewys.
Grobler het dié bewering ontken en gesê dat die persoon die vertroulikheidsvereistes verkeerd verstaan het.
Hy meen dit is normale praktyk om van werknemers te verwag om die maatskappy se inligting verantwoordelik en vertroulik te hanteer.
“In geen geval word enige werknemer egter verbied om hulle uit te spreek oor die laat betaling van hul salarisse nie,” het Grobler verseker.
Op navrae oor die wetlike aspekte van maatskappye wat vertroulikheid van sy werknemers vereis en die vrystelling van maatskappy-inligting, sê die regskenner, adv. Marius Boonzaier, daar is verskeie aspekte om in ag te neem.
Sonder meer inligting en agtergrond oor die werknemer se werkskontrak of die maatskappy se beleid, meen Boonzaier dis moeilik om regsadvies oor die kwessie te gee.
“Op die oog af kan ek nie sien hoekom jy nie daardie inligting openbaar kan maak nie, want dit is inligting wat verband hou met jou as werknemer. Jy is sekerlik daarop geregtig om jou persoonlike inligting openbaar te kan maak” het Boonzaier gesê.
Die grootste deel van SDM se bedrywighede op land vind sowat 40 km suid van Lüderitz by Elizabethbaai plaas. Die maatskappy verskaf edelsteendiamante aan die internasionale mark.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie