Wentzel Maasdorp word daarvan beskuldig dat hy sy meisie Delia Weimers-Maasdorp vermoor het. FOTO JEMIMA BEUKES
Wentzel Maasdorp word daarvan beskuldig dat hy sy meisie Delia Weimers-Maasdorp vermoor het. FOTO JEMIMA BEUKES

'Die moord was 'n ongeluk' - Maasdorp

Staat van beswyming
Wentzel Maasdorp beweer hy kon niks onthou van hoe sy meisie dood is nie.
Jemima Beukes
Die man wat daarvan beskuldig word dat hy sy meisie in haar woonstel vermoor het, het bevestig dat hy haar verwurg het. Wentzel Maasdorp het gister tydens 'n borgtogaansoek gesê hy het Delia Weimers-Maasdorp in haar woonstel in Klein Windhoek tydens 'n "staat van beswyming" en "'n tydelike verlies van sy bewussyn" verwurg en kon daarna niks onthou van hoe sy dood is nie.

"Ek was in skok toe ek weer by is en uitvind sy leef nie meer nie. Ek het nie geweet wat om te doen nie," het Maasdorp gesê.

Hy staar 'n klag van moord saamgelees saam met die bepalings van die wet op huishoudelike geweld, asook twee klagtes van diefstal in die gesig nadat hy na bewering Weimers-Maasdorp se motor, selfoon en televisie gesteel het. Hy het dit glo vir geld en kokaïen verkoop.

"Ek het geld vir dit gekry, maar nie kokaïen nie," het hy getuig.

Tydens 'n skuldbelydens op 3 Mei verlede jaar het Maasdorp erken dat hy haar koelbloedig vermoor het.

Hoewel hy daarop aandring dat sy woede die gevolg was van Weimers-Maasdorp wat vodka in sy gesig gegooi het, sê die staat getuienis wys 'n jaloerse gewese minnaar wat haar vermoor het omdat sy iemand anders begin sien het.

"Die staat stel dit aan jou dat jy op die aand van die voorval na haar woonstel toe is om te praat oor haar wat 'n verhouding gehad het met iemand wat 'n nabye vriend van julle albei was. Jy het vermoed dat sy wou loop en jy het haar vermoor," het die staatsaanklaer Eric Naikaku aangevoer.

Naikaku het gister aan Maasdorp gesê daar is 'n beduidende waarskynlikheid dat hy skuldig aan moord bevind sal word wat tot 'n swaar straf kan lei. Ook het Maasdorp na bewering die moord gepleeg terwyl hy uit was op borgtog en is hy daarom in dié geval nie geskik om op borgtog vrygelaat te word nie.

Die paartjie het in Augustus 2023 ontmoet in 'n rehabilitasiesentrum. Volgens Maasdorp het hy 'n stryd met dwelm- en Weimers-Maasdorp met alkoholverslawing gevoer. Maasdorp het aangevoer geweld was buiten vir geringe meningsverskille nooit deel van hulle verhouding nie. Hy beweer dit was egter net op die betrokke aand toe sy hom met vodka gegooi het, dat hy sy "kop verloor" en wraak geneem het.

"Sy het vodka in my gesig gegooi en my rondgeklap. Dit was toe dat alles swart geword en ek uit 'n beswyming wakker geword en haar liggaam gesien het. Ek het nog nooit hierdie tipe beswyming ervaar nie. Ek is nie 'n gewelddadige persoon nie," het hy gesê.

Maasdorp het beklemtoon toe hy uit die beweerde beswyming kom en Weimers-Maasdorp stil sien lê, het hy aanvaar sy het flou geword. Hy het egter nie haar polsslag geneem nie. In stede daarvan erken hy het hy haar woonstel verlaat, haar motor gevat en geld uit haar rekening getrek. Maasdorp het Mariental en toe weer Rehoboth toe gery waar hy 'n motorband herstel het. Van Rehoboth is hy Windhoek en toe Katima Mulilo toe waar hy óf vriende óf besigheidskontakte gehad het.

In sy skulderkenning wat hy onderteken het en wat tydens kruisondervraging aan die hof voorgelê is, het hy egter gesê hy kan nie alles onthou van die aand wat hy na bewering sy meisie vermoor het nie.

"Ek het beheer verloor en haar begin wurg," het hy erken.

"Toe ek by my sinne kom, was dit reeds te laat. Ek het 'n kombers gevat en haar toegedraai omdat ek nie geweet het wat om te doen nie. Dit is die eerste keer wat iets soos dit met my gebeur het. Ek het nie geweet hoe om dit te hanteer nie."

Volgens hom het hy die volgende dag na die woonstel teruggekeer met die hoop om Weimers-Maasdorp lewend te vind.

"Dit was nie bewustelik nie. Dit het op die ingewing van die oomblik gebeur. Ek sou haar nooit met nugter denke seermaak nie. Die moord was 'n ongeluk," het Maasdorp getuig.

Hoewel hy erken hy was aan crack-kokaïen verslaaf, het hy beklemtoon hy was ten tyde van die moord sober.

Tydens kruisondervraging het hy egter toegegee dat hy 'n insinking tydens hul verhouding gehad het. Volgens Maasdorp is "alkohol en dwelms nie iets wat jy sommer so kan stop nie".

Landdros Monica Andjamba het die borgtogverhoor tot vandag uitgestel. Maasdorp word deur Sameul Shinedima verteenwoordig en bly in aanhouding.

Kommentaar

Republikein 2025-01-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 28° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 19° | 35° Windhoek: 19° | 33° Gobabis: 21° | 34° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 19° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 19° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 20° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 27° Gaborone: 21° | 33° Lubumbashi: 16° | 22° Mbabane: 17° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 19° | 25° Maputo: 20° | 33° Windhoek: 19° | 33° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!