• Tuisblad
  • Howe
  • Dienste vir grondhantering by Hosea Kutako draai in hof
Die Internasionale Lughawe Hosea Kutako. Foto Argief
Die Internasionale Lughawe Hosea Kutako. Foto Argief

Dienste vir grondhantering by Hosea Kutako draai in hof

NAC dien dringende aansoek in
Die Namibië Lughawensmaatskappy het 'n dringende aansoek teen Menzies Aviation Namibia gebring om te verseker dat hulle aan die einde van die maand die Internasionale Lughawe Hosea Kutako sal ontruim.
Kristien Kruger
Die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) is in ’n regstryd teen die maatskappy gewikkel wat die afgelope agt jaar verantwoordelik vir die grondhanteringsdienste by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako (HKIA) was.

Die NAC beoog om ’n nuwe maatskappy aan te stel, maar Menzies Aviation Namibia – wie se kontrak op 30 Junie 2022 eindig en nie verleng word nie – beweer die nuwe maatskappy sal nie die mas opkom nie.

Die NAC het einde verlede maand ’n dringende aansoek by die hoërhof in Windhoek ingedien in ’n poging om ’n hofbevel te verkry wat Menzies sal dwing om op 30 Junie die lughawe se perseel te verlaat. Dit om plek te maak vir die nuut aangestelde maatskappy, Paragon Investment Holdings JV Ethiopian Airlines, wie se kontrak op 1 Julie moet begin.

In NAC se dringende aansoek beweer die maatskappy dat Menzies nie bevestig het dat hulle die perseel op 30 Junie sal ontruim nie en NAC het rede om te glo dat Menzies die oorgang na die nuwe diensverskaffer sal belemmer.

“Dit sal die NAC, HKIA en die Namibiese mense aansienlike skade berokken,” beweer die NAC.

Die NAC versoek ook dat die hof opdrag aan die Namibiese polisie moet gee om Menzies van die perseel af te vergesel indien hulle nie die lughawe ontruim nie.

AGTERGROND

Menzies en NAC het in 2014 die eerste ooreenkoms geteken en Menzies het sedertdien die HKIA se grondhanteringsdienste behartig.

Grondhantering sluit in die hantering van passasiers en bagasie, opritdienste, lugvrag- en poshantering, skoonmaak en vervoer.

Die ooreenkoms is sedert 2014 verskeie kere verleng en is die laaste keer op 31 Desember 2021 vir ses maande tot 30 Junie 2022 verleng.

Menzies is op 31 Desember 2021 ingelig dat hul tenderaanbod van die hand gewys is en die tender aan Paragon toegeken is.

Die maatskappy het die hersieningspaneel genader en die paneel het bevind dat Menzies nie aan al die tendervereistes voldoen het nie.

Hulle het hierna ’n aansoek vir hersiening van dié besluit by die hof ingedien. Die saak is steeds hangend.

Menzies het nie net die NAC se dringende aansoek teengestaan nie, maar het ook ’n teeneis ingestel vir die tersydestelling van die tender wat aan Paragon toegeken is of alternatiewelik 'n interdik teen die NAC en Paragon hangende die finalisering van die aansoek om hersiening.

“Namibië en HKIA is in groot gevaar as Paragon die grondhantering oorneem. Die oorhandiging aan Paragon sal onwettig en teenstrydig met artikel 18 van die Grondwet wees. Dit sal ook strydig met Namibië se internasionale verpligting wees om 'n veilige lughawe te verskaf en sal ’n byna gewaarborgde verleentheid vir Namibië inhou,” lui Menzies se verklaring wat deur die maatskappy se direkteur, mnr. Ian Michael van Rooyen, saamgestel is.

Menzies beweer Paragon se tenderaanbod het nie aan die tendervereistes voldoen nie en hulle het nie die ervaring op die toerusting nie.

“Menzies het die ondervinding en opgeleide personeel wat die werk kan doen, Paragon nie. Menzies het die korrekte en goedgekeurde toerusting om sy verpligtinge na te kom, Paragon nie.”

Volgens Menzies se verklaring wil Paragon Air Namibia se ou toerusting gebruik.

“Dit is onrusbarend dat een van Paragon se groot uitgawes van sowat N$2 miljoen tot dusver bestee is om hierdie verouderde toerusting te herstel. Hulle wil tweedehandse, goedkoop toerusting gebruik.

“Ek voer met respek aan dat Paragon nie omgee vir die integriteit van Namibië, die veiligheid van HKIA en die toeriste wat Namibië besoek nie.

“Daarbenewens is die gebruik van hierdie verouderde toerusting 'n oortreding van die tendervoorwaardes.”

Die NAC ontken dat Menzies se teeneis enige meriete dra.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!