Dippenaar kry prokureur vir siviele saak

Oorlewende eis miljoene
Luidens twee verklarings is 'n noodoproep op dié noodlottige dag oor 'n onverskillige en roekelose bestuurder op die Swakopmund-Walvisbaai-pad ontvang.
Henriette Lamprecht
Die siviele saak teen mnr. Jandré Dippenaar waarin die enigste oorlewende van ’n gru-ongeluk in Desember 2014 hom vir miljoene dagvaar, kan uiteindelik voortgaan.

Dippenaar is sedert 10 Maart verlede jaar sonder regsverteenwoordiging, nadat mnr. Petrie Theron van PD Theron & Associates hom van die saak onttrek het.

Dippenaar se aansoek om regshulp is in April afgekeur. Hy het egter gister in die hoërhof aangedui dat Van der Merwe-Greeff Andima Inc. hom voortaan in die skadevergoedingseis van me. Annette Schlösinger, voog van Antonia Joschko, sal verteenwoordig.

Antonia is die enigste oorlewende in die motor waarin sy saam met haar pa, mnr. Markus Joschko (48), haar ma, me. Stephanie Schermuck-Joschko (49) en suster, Alexandra Joschko (19), gereis het.

Drie Namibiërs wat saam met Dippenaar in sy voertuig was, mee. Dinah Pretorius (30), Charlene Schoombe (24) en mnr. Jan-Carel Horn (27) het ook in die ongeluk gesterf.

’n Verklaring van twee getuies vorm deel van die skadevergoedingseis. Daarin word bevestig dat Dippenaar op die dag van die ongeluk – 29 Desember 2014 –op die pad tussen Walvisbaai en Swakopmund onverskillig en roekeloos bestuur en ook voertuie op ’n soliede lyn verbygesteek het.

Mnr. Apollus Motinga, ’n verkeersbeampte, sê in sy verklaring hy was op patrollie in Swakopmund toe ’n man hom gestop en hom ingelig het oor ’n bestuurder wat onverskillig ry.

Die man het volgens Motinga by hom “gepleit om die voertuig te stop” en met die bestuurder te praat.

Motinga het by die Swakopmund-brug vir die voertuig gaan wag waar hy mnr. Dewald Swart, ’n polisiereservis en lid van die Swakopmund-buurtwag, gekry het wat dieselfde inligting ontvang het. Motinga sê terwyl hy en Swart by die brug gestaan en praat het, het Dippenaar se voertuig verby hulle gery.

Motinga het hom tot in die dorp gevolg waar hy hom gevra het om te stop.

Dippenaar het homself geïdentifiseer deur middel van sy bestuurslisensie. Tydens ondervraging oor sy “onbedagsame bestuur” het Dippenaar volgens Motinga erken hy het ’n voertuig voor die brug verbygegaan omdat dit “baie stadig gery het” en hy was bang voertuie agter hom kon in hom vasry.

Motinga sê Dippenaar het ná ’n “ernstige verbale waarskuwing nederig om verskoning gevra en beloof om dit nie weer te doen nie”.

Motinga erken hy het Dippenaar nie vir alkohol getoets nie, omdat hy niks aan hom kon ruik nie. Sy voertuig is ook nie vir padwaardigheid getoets nie, omdat hy geen fisieke skade kon sien nie.

Swart sê in sy verklaring hy het ’n noodoproep oor ’n roekelose en onverskillige bestuurder van die buurtwag by die polisiekantoor ontvang waar hy op dié dag gestasioneer was.

Hy het bevestig dat hy Motinga by die Swakopmund-brug gekry het, waarna hy hom gevolg het tot in die dorp waar Motinga vir Dippenaar gestop het.

Swart sê die persoon wat Dippenaar se roekelose bestuur aangemeld het, mnr. Freddie Mills, het ook by die toneel opgedaag. Volgens Swart het Mills met sy aankoms aan hom en Motinga gesê hy was steeds geskok oor die manier hoe Dippenaar sy voertuig tussen Walvisbaai en Swakopmund bestuur het.

Swart het aan Mills bevestig Motinga het Dippenaar met ’n waarskuwing vir roekelose bestuur laat gaan.

Dippenaar staar buiten die siviele eis van N$11 miljoen ook tereg op ses klagte van moord, 'n klag van roekelose en nalatige bestuur, met 'n alternatiewe klag van onbedagsame bestuur, 'n klag van bedrog, met 'n alternatiewe klag van verskaffing van vals inligting, asook 'n klag van bestuur sonder 'n rybewys. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!