Dippenaar skuldig op al ses moordklagte

Verskyn weer 25 Junie
Die ander oorlewende van die ongeluk, Antonia Joschko, het gister gesê sy is verlig dat Jandré Dippenaar skuldig bevind is op al die aanklagte teen hom.
Leandrea Mouers
“Dis duidelik dat die bestuurder in totale minagting van die veiligheid van sy passasiers en dié van ander padgebruikers gery het.”

Dit was die woorde van landdros Gaynor Poulton gister toe sy Jandré Dippenaar skuldig bevind het aan ses aanklagte van moord, asook ’n bykomende klag van roekelose en nalatige bestuur en die bestuur sonder ’n geldige rybewys. Die klag spruit uit ’n noodlottige motorongeluk wat byna tien jaar gelede naby Hentiesbaai plaasgevind het.

Dippenaar, wat tot en met sy skuldigbevinding vry op borgtog was, is ná die uitspraak in hegtenis geneem en sal weer op 25 Junie 2024 in die landdroshof in Swakopmund verskyn.

Dippenaar se prokureur, Petrie Theron, het versoek dat hy borgtog toegestaan ​​word tot en met sy vonnisoplegging, maar Poulter het die versoek van die hand gewys op grond van die erns van die saak.

Tydens sy volgende verskyning sal getuies geroep word vir die staat om te getuig ter ondersteuning van ’n strawwer vonnis en die verdediging sal na verwagting getuies roep om ter versagting van vonnis te getuig. Daarna sal die datum vir die vonnisoplegging geskeduleer word.

Dippenaar was agter die stuur van sy FJ Cruiser tydens die noodlottige trompop botsing wat die lewens van die drie passasiers in sy voertuig – Dinah Pretorius, Charlene Schoombee en JC Horn – en drie mense in die ander voertuig – Markus, Stephanie en Alexandra Joschko – geëis het.

“As dit nie vir die optrede van die beskuldigde [Dippenaar] was nie, sou hierdie ongeluk dalk nie plaasgevind het nie,” het Poulton in haar uitspraak gesê.

Dippenaar het drie voertuie op ’n blinde hoogte verbygesteek, wat tot die botsing gelei het.

Antonia was 16 jaar oud ten tyde van die ongeluk en sy was, buiten vir Dippenaar, die enigste oorlewende.

Nadat die skuldigbevinding gelees is, het sy in trane uitgebars. “Ek is verlig,” het sy gesê.

DOLUS EVENTUALIS

In verband met die moordklagte het Poulton staatgemaak op die regsbeginsel om dolus eventualis te bewys.

Dit is in gevalle waar ’n beskuldigde objektief kan voorsien dat sy optrede waarskynlik die dood van ’n ander sal veroorsaak, maar besluit om voort te gaan ten spyte van die moontlike gevolge van sy optrede.

Drie getuies het getuig hoe hulle gesien het hoe Dippenaar se voertuig drie voertuie verbysteek, voor hulle met ’n hoë spoed oor ’n blinde hoogte gery het.

Poulton het beslis dat hy ’n doelbewuste risiko geneem het om by ’n blinde hoogte ander voertuie verby te steek sonder enige waarborg dat daar nie ’n motor aan die ander kant sou wees nie.

“Die beskuldigde het verby bewuste nalatigheid gegaan en gery asof hy op ’n renbaan was. Die bewyse is dat hy teen ’n hoë spoed oor ’n heuwel gegaan het en probeer het om terug te beweeg in sy eie baan wat onsuksesvol was.”

Dippenaar het tydens sy getuienis volgehou dat hy niks van die ongeluk kan onthou nie.

“As die beskuldigde regtig nie kan onthou nie, sou hy eerlik en reguit gewees het, maar hy het bloot geantwoord dat hy kan nie onthou nie.”

ROEKELOOS

Dippenaar is skuldig bevind op een klag van roekelose en nalatige bestuur op grond van die feit dat hy vroeër op die dag van die ongeluk, 29 Desember 2014, meer as een voertuig op die pad tussen Walvisbaai en Swakopmund verbygesteek het.

Hy is deur ’n verkeersbeampte voorgekeer en gewaarsku nadat ’n padgebruiker oor sy bestuur gekla het.

In haar uitspraak het Poulton ook bevind dat Dippenaar se rybewys op 5 Januarie 2014 verval het en daar eers op 29 Januarie 2015 ’n nuwe een aan hom uitgereik is.

“Op die noodlottige dag het hy nie ’n geldige bestuurderslisensie gehad nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-09-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Rugby Championship: New Zealand 33 vs 13 Australia LaLiga: Real Valladolid 1 vs 2 Mallorca | Celta Vigo 0 vs 1 Atletico Madrid | Espanyol 1 vs 2 Villarreal | Las Palmas 1 vs 1 Real Betis | Barcelona 1 vs 0 Getafe | Girona 0 vs 0 Rayo Vallecano SerieA: AC Milan 3 vs 0 Lecce European Championships Qualifying: Plymouth Argyle 3 vs 1 Luton Town English Championship: Plymouth Argyle 3 vs 1 Luton Town #N/A Currency: GBP to NAD 22.84 | EUR to NAD 19.09 | CNY to NAD 2.44 | USD to NAD 17.11 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.26 | EGP to NAD 0.35 | KES to NAD 0.13 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.64 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.14 | RUB to NAD 0.18 | INR to NAD 0.2 | USD to DZD 131.76 | USD to AOA 940.1 | USD to BWP 13.08 | USD to EGP 48.31 | USD to KES 128.48 | USD to NGN 1666.22 | USD to ZAR 17.1 | USD to ZMW 26.37 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1920.41 Up +0.02% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 14449.05 Up +0.55% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 31276.91 Up +0.08% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI 9653.37 Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 658.55/OZ DOWN -0.0053 | Copper US$ 4.56/lb DOWN -0.0111 | Zinc US$ 3 089.80/T DOWN -0.37% | Brent Crude Oil US$ 72.65/BBP UP +1.49% | Platinum US$ 1 001.11/OZ DOWN -0.0062 #N/A