• Tuisblad
  • Howe
  • Drie Chinese burgers sleep landdros, ministerie hof toe
Die hoërhof in Windhoek. Foto Argief.
Die hoërhof in Windhoek. Foto Argief.

Drie Chinese burgers sleep landdros, ministerie hof toe

Glo onwettig in hegtenis geneem
Drie mans wat in Mei vanjaar skuldig bevind is aan die oortreding van die immigrasiewet, beweer hulle is onskuldig.
Kristien Kruger
Drie Chinese burgers eis dat hulle onwettig in hegtenis geneem, skuldig bevind en gevonnis is.

Hulle is skuldig bevind op ’n klag dat hulle die Immigrasiewet 7 van 1993 oortree het deurdat hulle na bewering nie ingevolge hul werkspermitte opgetree het nie.

Mnre. Ligen Zhang, Jiang Jianhua en Ji Ning het in Junie ’n saak teen ’n landdros van die Katima Mulilo-landdroshof, die aanklaer-generaal en die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit by die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak.

Hulle poog om hul skuldigbevinding te hersien en tersyde te stel. Hulle eis ook dat die vonnis – ’n boete van N$4 000 of vier jaar tronkstraf – teruggetrek moet word.

AGTERGROND

Die drie mans was werksaam by Jiangsu Zhengtai Construction Group (Pty) Ltd. en het volgens hul verklaring geldige werkspermitte gehad om in Namibië te werk.

Jiangsu Zhengtai Construction het ’n ooreenkoms met Gansu Construction Investment Group aangegaan. Gansu was besig met ’n projek wat skole in die Zambezi- en Kavango-Wesstreek gebou het. China het die skole aan Namibië geskenk en die projek gefinansier.

Volgens die ooreenkoms moes Jiangsu Zhengtai personeel stuur om met dié projek te help en die drie Chinese was deel van die personeel wat Katima Mulilo toe gestuur is.

Jianhua is as tegniese konsultant gestuur en Zhang en Ning as onderskeidelik terreinbestuurder en terreindiens- en instandhoudingsvoorman.

“Ons het gegaan met die doel om die masjiene, wat deur ons werkgewer aan Gansu verhuur is, te bestuur en in stand te hou.”

“Ons werkgewer het ons opdrag gegee om na Katima Mulilo te reis en ons het met ons verantwoordelikhede begin ingevolge die ooreenkoms tussen ons werkgewer en Gansu,” lui Zhang se verklaring.

Die ministerie het die bouterrein op 18 Mei besoek en versoek om al die Chinese werknemers se permitte en visas te sien.

Hulle is in kennis gestel dat hulle werkspermitte nie voorsiening maak vir hulle om in Katima Mulilo te werk nie, maar dat hulle net in Windhoek by Jiangsu Zhengtai Construction mag werk.

Hulle is dieselfde dag in hegtenis geneem. Al drie mans is by die Katima Mulilo-polisiekantoor aangehou.

Zhang beweer dat hulle nie in hegtenis geneem kon word nie omdat hulle volgens afdeling 39(2)(a) tot (h) van die immigrasiekontrolewet, nie verbode immigrante was nie. Hulle het glo geldige werkspermitte gehad.

“Ek voer aan dat die onwettige arrestasie, tesame met die verrigtinge wat in ’n taal uitgevoer is wat ons nie verstaan het nie, ons artikel 12 regte en ons artikel 7 en 8 regte geskend het.”

AANHOUDINGSELLE

“Die selle is nie skoon nie en ons is in ’n sel saam met 20 ander mense aangehou. Ons het net harde brood en pap met min sous gekry om te eet. Daar was geen drinkwater nie en ons het tussen kokkerotte en ander insekte geslaap. My twee kollegas het siek geword en hulle is mediese hulp geweier,” verduidelik Zhang in sy verklaring.

Zhang beweer dat hulle regsverteenwoordiger vir hom gesê het indien hulle uit aanhouding wil kom, moet hulle skuldig pleit.

“Ons was gretig om uit aanhouding vrygelaat te word en het geglo dat ons skuldig was na aanleiding wat ons regspraktisyn aan ons verduidelik het.”

Die mans is op 20 Mei na die landdroshof op Katima Mulilo geneem en het skuldig gepleit.

“Ons het nie ’n tolk gehad wat verseker het dat ons die strafregtelike verrigtinge verstaan nie. Die verrigtinge is dus gevoer in ’n taal wat ons nie ten volle begryp het nie.”

“Die strafregtelike verrigtinge was onreëlmatig omdat ons grondwetlike regte geskend is, vanaf ons arrestasie en ons aanhouding in toestande wat strydig is met artikel 8, asook ons reg tot ’n regverdige verhoor.”

Regter Herman Oosthuizen het verlede Maandag die saak tot 24 Oktober uitgestel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!