Dringende aansoek teen minister, polisie
Drie deeltydse veeboere het ’n dringende aansoek gebring nadat polisiebeamptes beslag gelê het op 19 stuks vee weens die vermoede dat die vee gesteel is.
Die boere eis nou dat die vee aan hulle terugbesorg word.
Vezembouua Mariine boer op die gemeenskaplike plaas Okamburaso in die Otjozondjupastreek.
Hy sien om na Vendapii Ronald Mariine en Uerikora Tjiharuka se vee, wat beide in Kanada woon.
Vezembouua, Vendapii en Tjiharuka het in Februarie vanjaar die aansoek teen die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, Joseph Shikongo, en die stasiebevelvoerder van die Talismanus-polisiekantoor aanhangig gemaak.
Die vee waarop beslag gelê is, sluit in 12 bonsmara-koeie, drie verse, drie kalwers en een Santa-bul.
Partye het Woensdag voor regter Shafimana Ueitele in die hoërhof in Windhoek verskyn.
AGTERGROND
Volgens Shikongo se verklaring is die eerste beslaglegging van nege beeste op 22 Januarie sonder ’n lasbrief uitgevoer, maar op die redelike vermoede dat die vee onwettiglik bekom is.
Die Talismanus-polisiekantoor se bevelvoerder, ene Mukuahima, het hierdie beslaglegging uitgevoer nadat hy inligting van ’n tradisionele leier in die omgewing ontvang het oor beweerde gesteelde beeste op die plaas.
Op 6 Februarie is daar op nog 10 stuks vee beslag gelê en dié beslaglegging was glo ingevolge ’n lasbrief uitgevoer.
Vezembouua beweer die beslagleggings was onwettig aangesien die polisiebeamptes nie ’n redelike vermoede kon gehad het dat die beeste gesteel is nie. Hulle vermoede was glo uitsluitlik gebaseer op die inligting wat die tradisionele leier verskaf het.
Hy beweer verder ’n strafregtelike saak is nie voor die eerste beslaglegging geopen nie. Die saak is na bewering eers op 2 Februarie geopen.
Shikongo ontken enige oortreding en beweer die applikante het ’n plig om eienaarskap van die beeste te bewys wat hulle glo tot dusver versuim het om te doen.
Volgens Shikongo se verklaring is daar met die beeste se brandmerke gepeuter. “Nie een van die beeste in die polisie se besit het die brandmerke wat aan die applikante behoort nie.”
Shikongo voer verder aan vyf bonsmaras se oorplaatjies is in ’n ander persoon se naam geregistreer, ’n man wat in Junie 2021 oorlede is.
Vezembouua beweer hulle het die beeste by die oorledene gekoop en het nog nie die oorplaatjies opgedateer nie.
Shikongo sê in sy verklaring: “Wanneer ’n eienaar sy vee verkoop, moet hy ’n permit kry om dit te vervoer. Hierdie permit sal die besonderhede van die verkoper, koper en diere bevat. Sodra die dier vervoer is, moet die koper die permit by sy plaaslike staatsveearts se kantoor indien.
“Daarna genereer die stelsel dan outomaties ’n opdatering van die oorplaatjies om die nuwe eienaar aan te dui. Dit vind gewoonlik binne 14 dae plaas, maar in dié geval is dit steeds in die oorledene se naam geregistreer. Dit is ’n aanduiding dat die beeste sonder ’n permit vervoer is.”
Hy sê ook verder die permit vir die vervoer van die bul het aangedui dat die bul na die Okakarara-kiesafdeling moes gaan, maar beslag is op die bul gelê in die Otjombinde-kiesafdeling. Vezembouua ontken enige onreëlmatighede.
“Selfs al was dit waar, spreek dit nie tot die eienaarskap van die bul nie en beteken dit nie dat die bul onderhewig is aan beslaglegging nie,” voer hy aan.
Shikongo versoek die hof om die aansoek van die hand te wys.
“Die feit dat eienaarskap van die oorplaatjies nie verander is nie en die brandmerke van minstens 13 van die beeste mee gepeuter is, is ’n aanduiding die applikante is nie die wettige eienaars van die beeste nie,” voer Shikongo aan.
Vezembouua is op 4 Februarie vir veediefstal in hegtenis geneem. Hy is egter op 6 Februarie vrygelaat aangesien die polisie nie genoegsame bewyse gehad het om hom aan die misdrywe te verbind nie.
Vezembouua beweer ’n derde party het drie van die beeste geskenk. Shikongo sê egter klaers wat sake van veediefstal aanhangig gemaak het, is versoek om na die polisiekantoor te kom en hul beeste uit te ken.
“Geen beeste is geskenk nie – die klaers het hul beeste uitgeken en die vee is daarna aan hul wettige eienaars terugbesorg,” lui Shikongo se verklaring.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie