• Tuisblad
  • Howe
  • Dringende aansoek teen mynaktiwiteite misluk
RULING: Outside the court the applicants and lawyers discuss the judgement. Photo: ELLANIE SMIT
RULING: Outside the court the applicants and lawyers discuss the judgement. Photo: ELLANIE SMIT

Dringende aansoek teen mynaktiwiteite misluk

Kleims in omgewingsbewaringsgebiede
Regter Orben Sibeya het in sy uitspraak gesê die applikante het versuim om feite en omstandighede vas te stel wat die aansoek dringend maak.
Ellanie Smit
’n Dringende aansoek wat deur die Doro !Nawas-en Ûibasen Twyfelfontein-bewaringsgebiede, die ≠Aodaman Tradisionele Owerheid en Ultimate Safaris teen Ottilie Ndimulunde gebring is, is Vrydag deur regter Orben Sibeya van die rol geskrap.

Sibeya het beslis dat die dringende aansoek nie aan die vereistes voldoen nie en het beveel dat die eisers die koste van die aansoek, insluitend dié van Ndimulunde, betaal.

Die aansoek is ingedien nadat Ndimulunde hervat het met die konstruksie van ‘n pad waarteen ‘n interdik toegestaan is. Laasgenoemde was die gevolg van 'n vorige hofsaak teen Timoteus Mashunga nadat ontdek is dat hy besig was om 'n pad na sy kleims te bou wat gelykstaande is aan die grootte en skaal van 'n distrikspad en wat in die proses omgewingskade veroorsaak.

Sibeya het gesê die aansoek teen Ndimulunde is op 'n uiters dringende basis vir 'n interdik gebring.

“Die applikante het hierdie hof genader oor 'n aangeleentheid van uiterste dringendheid en het die aansoek op Sondag 15 September om 12:00 vir verhoor neergelê.”

Sibeya het in sy uitspraak gesê dat die hoofverligting wat die applikante gesoek het, was om die eerste respondent te verbied om swaar masjinerie te gebruik om 'n nuwe pad te bou vanaf die D2612 na die terrein van die kleims of enige nuwe paaie, padwerke of voertuigspore op die Plase 535 Probeer en 527

Draaihoek in die Khorixas-distrik. Laasgenoemde was hangende die hersiening van die besluit van die omgewingskommissaris om 'n omgewingsklaringsertifikaat aan Ndimulunde uit te reik.

Sibeya het gesê dat Ndimulunde in haar beantwoordende verklaring regspunte geopper het wat nie dringend is nie, die toevoeging van ander partye tot die aansoek en die magte om die aansoek te bring.

Sy het aangevoer dat die applikante se aansoek nie dringend is en dat die aansoek Vrydag 13 September ingedien is om op Sondag 15 September aangehoor te word. Dit is eers die Maandag 16 September aangehoor.

Ndimulunde het verder aangevoer dat haar kleims onder die eksklusiewe jurisdiksie van die Daure Daman Tradisionele Owerheid val en daarom het Daure Daman 'n direkte en wesenlike belang in die aansoek, maar dit is nie as 'n party tot die aangeleentheid saamgevoeg nie.

Sibeya het verder gesê Ndimulunde het aangevoer dat kleims nie in die gebied van die jurisdiksie van of Doro !Nawas- of Ûibasen Twyfelfontein-bewaringsgebiede val nie, maar wel in die Sorris Sorris-bewaringsgebied wat ook as ‘n respondent in die saak genoem is.

Sibeya het gesê dat die applikante verplig is om feite en redes in hul stigtingsdokumente uiteen te sit wat hul aansoek uiters dringend maak om nie vir die volgende hofdag te wag nie en soos vereis deur reël 73(1) van die hofreëls.

Hy het gesê dat 'n regspraktisyn, in ooreenstemming met reël 73(1), in 'n sertifikaat van dringendheid moet sertifiseer dat die saak so dringend is dat dit enige tyd of enige dag aangehoor behoort te word en nie kan wag vir die volgende hofdag of tyd nie. Die basis van die sertifikaat moet duidelik wees in die feite en redes vervat in die stigtingsdokumente.

Sibeya het gesê dat die applikante nie aan die vereistes van reël 73(1) voldoen het nie, en verder ook nie aan die vereistes van 73(4)(b) voldoen het deur nie vas te stel dat hulle nie mettertyd aansienlike verligting tydens 'n verhoor toegestaan kan word nie. Laasgenoemde is veral met inagneming van die Wet op Omgewingsbestuur 7 van 2007 wat 'n party toelaat om die minister te nader om 'n omgewingsklaringsertifikaat op te skort of te kanselleer en selfs op 'n noodbasis.

Die aansoek is weens ‘n gebrek aan dringendheid met koste van die rol geskrap.

“Ek is van mening dat die applikante versuim het om feite en omstandighede vas te stel wat hierdie aansoek ingevolge reël 73(1) en (3) dringend maak.

Ek vind ook dat die applikante verder versuim het om vas te stel dat hulle nie mettertyd aansienlike regstelling by 'n verhoor verleen kan word nie.

Gevolglik weier ek om my diskresie uit te oefen om die aansoekers se aansoek as een van dringendheid aan te hoor,” het Sibeya gesê. Tristan Cowley, besturende direkteur van Ultimate Safaris, het gesê hulle is teleurgesteld dat die regter nie die dringendheid insien met betrekking tot die vernietiging van die omgewing, waarvan die beskerming in die land se grondwet verskans is nie.

"Ons oorweeg natuurlik ons ​​opsies, aangesien hierdie uitspraak 'n ongelukkige presedent is vir gemeenskapsgebaseerde natuurlike Hulpbronbestuur, en die harde werk wat bewaringsgebiede gedoen het om hierdie gebiede te beskerm." - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 21° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 20° | 34° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 34° Aranos: 22° | 34° Lüderitz: 16° | 29° Ariamsvlei: 19° | 35° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 28° Maseru: 18° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 19° | 23° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 17° | 24° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 25° Harare: 17° | 21° #REF! #REF!