FOTO UNSPLASH
FOTO UNSPLASH

Eis miljoene vir ‘tronkverkragting’

Henriette Lamprecht
’n Paramedikus van Windhoek wat beweer hy is deur ’n groep mans in die tronk verkrag, sal eers op 19 Julie hoor of sy skadevergoedingseis teen die ministerie van veiligheid en ’n verkeersbeampte van die stadspolisie geslaag het.

Die slagoffer, verbonde aan die Windhoekse brandweer, eis N$2,8 miljoen van beide die ministerie en Erwin Katiti vir onder meer pyn en lyding, sielkundige skade en toekomstige mediese behandeling.

Die eiser sê in sy verklaring hy was op 18 September 2018 in sy motor onderweg in Auasweg naby die Safari Hotel toe hy deur ’n konstabel Alberto Miguel afgetrek is.

Dié het hom na bewering beveel om uit te klim omdat Katiti hom soek. Laasgenoemde het glo gesê die eiser is dronk, sonder dat enige toetse gedoen is. Die eiser en Katiti het woorde gewissel, waarna die eiser glo in boeie geslaan en in ’n sedanvoertuig van die stadspolisie gelaai is.

Volgens die verklaring het Katiti glo gedreig dat die eiser in die aanhoudingselle aan geweld onderwerp sou word. Hy is na die Windhoekse sentrale polisiekantoor geneem waar hy na bewering vir drie ure in die aanklagkantoor gewag het. Hier is hy glo weer met geweld gedreig, onder meer deur ene Jeripo.

Hy is na sel 2 oorgeplaas waar glo aan die res van die aangehoudenes gesê is “hierdie man sien nie ons gatas nie” en “do the house drill”.

Die eiser beweer hy is vir 10 tot 15 minute fisiek aangerand, gedwing om ’n groen vloeistof te drink en om naak te stort, terwyl hy ook na bewering deur vyf mans verkrag is. Hy is daarna glo naak en bloeiend na die aanklagkantoor geneem waar ene Halu na bewering aan hom gesê het hy is in hegtenis geneem omdat hy ’n hangende saak teen hom het.

Die eiser moes ook glo kies om skuldig te pleit op die klag teen hom, óf ’n verdere drie nagte in die aanhoudingselle deurbring voordat hy die Maandag (1 Oktober 2018) in die hof sou verskyn.

Die kliniese sielkundige, dr. Shaun Whittaker, het in sy eedsverklaring bevestig hy het die eiser as pasiënt ná die beweerde voorval gesien en hom onder meer met bipolêre gemoedsteuring met psigotiese kenmerke gediagnoseer.

Volgens Whittaker het die beweerde verkragting ’n ernstige maniese episode by die eiser veroorsaak. Hy is vir ’n jaar op siekverlof geplaas, terwyl hy ook intensiewe psigoterapeutiese behandeling by ’n sentrum moes ontvang.

In hul verweer sê die ministerie die bewerings van aanranding is ongegrond, met geen van die polisierekords wat enige aantekeninge van beserings toon nie. Ook het niemand van die ministerie die aangehoudenes aangehits om die eiser aan te rand nie.

Katiti ontken ook dat hy die eiser aan “marteling, wrede en onmenslike” behandeling onderwerp het.

Volgens hom het die eiser wat glo bestuur het terwyl hy op sy selfoon gepraat het, vuil taal gebruik en toenemend aggressief opgetree wat daartoe gelei het dat hy in hegtenis geneem is.

Hy ontken dat hy die eiser ooit gedreig het en sê laasgenoemde het ook geen mediese of dokumentêre bewyse ter ondersteuning van die beweerde seksuele aanranding of trauma ingedien nie.

Reinhard Tjeripo Muniazo, ’n polisiebeampte wat die dag van die beweerde aanranding aan diens was, het in sy verklaring ook ontken dat aangehoudenes opdrag gegee is om ’n “house drill” uit te voer. Volgens hom het hy die eiser uit die sel gehaal en in die gang gelos, omdat hy glo “aanhoudend in ’n baie harde stem” gepraat het en hy bekommerd was dit sou die ander aangehoudenes ontstel.

Muniazo sê hy was verras oor die bewerings van aanranding en verkragting, omdat die eiser se liggaamstaal glo niks verklap het nie en hy “normaal en kalm” voorgekom het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!