‘Ek moet na ’n leë graf gaan’
Man kry 19 jaar ná moord op vriend
Tristan Losper se verhoor het gister tot 'n einde geloop met sy vonnisoplegging.
Twee families was gister by die streekhof in Windhoek ontroosbaar ná Tristan Losper (24) tot 19 jaar tronkstraf gevonnis is vir die moord op sy vriend uit sy kinderdae, die paramedikus en Wanderers-losskakel, O’Neal de Wee, in 2022.
“Hulle kan hom gaan sien en met hom praat, ek moet na ’n leë graf gaan. Ek moet vir die res van my lewe met daardie letsel loop,” het Anthea de Wee, O’Neal se ma, gesê.
Landdros Justine Asino het gesê dat Losper, ’n eerste oortreder, se kanse op rehabilitasie goed is aangesien hy verskeie kere tydens die verhoor berou getoon het.
“Die beskuldigde het om vergifnis by die familie gepleit en het met verskeie geleenthede tydens die verhoor gehuil. By tye het hy so erg gehuil dat die hof moes verdaag,” het Asino tydens vonnisoplegging gesê.
Tydens die hofsaak het dit aan die lig gekom dat Losper en De Wee sedert hul laerskooldae bevriend was en baie tyd oor naweke saam bestee het. Die twee het glo gereeld saam rugby gekyk.
Nadat hulle in ’n mondelingse en fisieke argument betrokke geraak het, het Losper in Februarie 2022 vir O’Neal doodgesteek.
Beide het aanvanklik weggestap met Losper wat later aan die hof sou verduidelik dat De Wee die bakleiery gewen het en hy later by sy huis gehoor het hoe sy vriende daaroor lag en spot.
Volgens Losper se verduideliking aan die hof het dit ’n woede in hom ontketen. Hy het De Wee in die straat opgespoor en hom herhaadelik met ’n mes gesteek. De Wee se vriende het ingetree en die mes by Losper afgevat.
Die noodlottige steekwond was volgens mediese verslae in De Wee se rug.
Losper het homself glo ná die voorval aan die polisie oorgegee en in die hof skuldig gepleit. Asino het dit as versagtende omstandighede beskou ten spyte van die feit dat Losper toegegee het hy het geen ander keuse gehad met al die bewyse teen hom nie.
Die landdros het aangevoer dat menige beskuldigdes onskuldig pleit ten spyte van die feit dat hulle geen verweer het nie.
Asino het ook Losper se verduideliking aan die hof dat hy sielkundige hulp ontvang het aanvaar as ’n teken van berou ná die moord.
“Hierdie hof het geen twyfel dat hy berou getoon het nie,” het sy gesê.
“Alle regte waarvoor die Grondwet voorsiening maak, spruit uit die reg tot lewe, want hoe kan jy jou reg tot onderrig of vryheid beoefen as jy nie lewe nie? Jy het iemand van sy reg tot lewe ontneem en niemand moet die reg hê om daaroor te besluit nie,” het Asino aan Losper gesê toe die omstandighede ter verswaring opgeweeg is.
Sy het gesê die toename in geweld onder jongmense is ’n kommerwekkende neiging in die samelewing.
“Hierdie hof het nie woorde vir die wrede manier waarop hy sy boesemvriend doodgemaak het nie,” het Asino gesê.
Sy het ook aangevoer dat Losper die aggressor in beide voorvalle was.
“Dis duidelik dat hy die eerste aggressor was aangesien hy eerste beledigend was en die fisieke bakleiery begin het. Ná die bakleiery het hy genoeg tyd gehad om te kalmeer en daaroor na te dink, maar hy het teruggegaan en sy vriend vermoor,” het Asino gesê.
Anthea het tydens hofverrigtinge getuig dat sy steeds haar seun se studies moet afbetaal en dat sy ten spyte van die goedgesinde ondersteuning wat die Losper-familie vir die begrafnis gebied het, ná die begrafnis nog daaraan moes afbetaal.
“Dit kan nie vir O’Neal terugbring nie,” het Anthea gister aan Republikein gesê ná ’n klaarblyklik bedroefde Losper sy vonnis van 19 jaar in die hof onderteken het.
“Dit bring bietjie vertroosting, maar hierdie het vir ons familie baie trauma gebring. . . ons wil nie ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand hê nie,” het sy oor die moord van haar enigste kind gesê.
“Ek het niks op my hart om vir hom [Losper] te sê nie – dit wat in my is, is te bitter. Al wat ek wel kan sê is ek dink hy kan nog ’n beter mens word,” het Anthea gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie