Die hoërhof in Windhoek. Foto Argief
Die hoërhof in Windhoek. Foto Argief

Entstofstryd duur voort

‘Regering het ’n plig om inligting te verskaf’
Die hofsaak waarin die Health Defence League en die regering gewikkel is, is Dinsdag tot April volgende jaar uitgestel.
Kristien Kruger
“Óf die regering het die inligting en wil dit nie aan ons bekend maak nie, óf die regering het nie die inligting nie en verwag van die applikante om tevrede te wees met onbetroubare inligting wat op die internet aan die publiek beskikbaar is.”

So het die Health Defence League (HDL) se Martin Wucher onlangs in ’n verklaring gesê.

Die groep dring daarop aan dat die regering inligting rakende die Covid-19-entstowwe bekend moet maak

Dit is deel van die hofsaak wat Wucher en die HDL, asook vier ander individue, teen die regering, die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste en die Namibiese Medisynebeheerraad (NMRC) in Augustus 2022 aanhangig gemaak het.

Die saak is Dinsdag in die hoërhof in Windhoek tot 2 April 2024 uitgestel.

HDL ‘ONDERMYN NIE REGERING’

Die ministerie moet al die inligting in sy besit verskaf oor die veiligheid en doeltreffendheid van die Covid-19-entstowwe waarop die ministerie gesteun het en tydens inentingsveldtogte as veilig verklaar het, eis die HDL.

Hulle versoek verder dat die hof die vrywaringsvorms nietig laat verklaar wat onderteken is voor die toediening van die entstowwe.

Hulle eis ook dat die toediening van die Pfizer/BioNTech-entstowwe onwettig verklaar word op grond van die bewering dat die toediening teenstrydig is met afdeling 18 en 45 van die wet op die beheer van medisyne en verwante middele.

“Ek ontken die bewering dat die applikante probeer om pogings deur die regering in die stryd teen die Covid-19-pandemie te ondermyn. Inligting wat gesoek word, ondermyn niks nie. Die regering en die minister het ’n plig om dié inligting te verskaf,” meen Wucher in sy verklaring.

REGERING SE VERWEER

Die ministerie steun volgens sy hoofbetoë op drie wettige punte in sy verweer.

Eerstens, dat die applikante na bewering nie mense met besware (aggrieved persons) is wat die gesoekte verligting kan kry nie.

“Ons voer aan die reg stipuleer dat ’n party wat verklarende verligting soek, dit ten opsigte van hulself moet nastreef.”

Die ministerie beweer daar bestaan geen verklaring wat daarop dui dat die applikante of enige van die HDL se lede, die vrywaringsvorm onderteken het nie.

“Ons voer aan dat die applikante nie gegriefde persone is nie en daarom geen reg het om die verklarende verligting te soek nie.”

Die ministerie se tweede wettige punt is die bewering dat die applikante nie die betrokke vervaardigers van die entstowwe by die hofsaak ingesluit het nie. Hulle moes dit na bewering doen omdat die inligting wat hulle versoek, die handelsgeheime van dié vervaardigers insluit.

“Die vervaardigers het ’n direkte en wesenlike belang wat vereis dat hulle by hierdie verrigtinge ingesluit word. Hulle is die eindelike eienaars van die inligting.”

Derdens, bevraagteken die ministerie of die hof die gepaste forum is om die debat oor die veiligheid en doeltreffendheid van die entstowwe te voer.

“Ons voer aan dat hierdie hof nie die geskikte forum is vir ’n wetenskaplike debat van hierdie aard nie,” lui die ministerie se hoofbetoë.

Partye is steeds in die voorverhoorfase en die saak word deur regter Hosea Angula aangehoor.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer