Bernard Esau en sy regsverteenwoordiger, adv. Richard Metcalfe. Foto Kristien Kruger
Bernard Esau en sy regsverteenwoordiger, adv. Richard Metcalfe. Foto Kristien Kruger

Esau en Van Wyk se borgaansoek vertraag

Metcalfe nie gereed nie
Die tweede borgtogaansoek van twee Fishrot-beskuldigdes sal na verwagting vandag afskop.
Kristien Kruger
Die nuutste aansoek om borgtog van twee van die Fishrot-beskuldigdes, Bernard Esau en Nigel van Wyk, was geskeduleer om Maandag in die hoërhof in Windhoek te begin, maar is tot vandag uitgestel.

Al twee borgtogaansoeke is op nuwe feite gebaseer aangesien beide die beskuldigdes voorheen reeds borgtog geweier is.

Die voormalige minister van visserye en mariene hulpbronne, Esau, se regsverteenwoordiger, adv. Richard Metcalfe, was nie Maandagoggend gereed om met die aansoek te begin nie, aangesien hy nog nie met Esau gekonsulteer het nie. Metcalfe se ma is onlangs oorlede en hy was tot Saterdag in Suid-Afrika.

Van Wyk en sy regsverteenwoordiger, Mbanga Siyomuinji, was Maandag gereed om met die aansoek voort te gaan.

Regter David Munzu het die saak tot vandag uitgestel om vir Metcalfe en Esau geleentheid te gee om te konsulteer voordat verrigtinge begin.

ESAU

Esau is in November 2019 in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.

Hy het saam met sy skoonseun en medebeskuldigde, Tamson (Fitty) Hatuikulipi, die eerste keer aansoek om borgtog in Julie 2020 in die Windhoekse landdroshof gedoen wat landdros Eduard Kesslau van die hand gewys het.

Hatuikulipi en Esau het teen die weiering van hul aansoek in die hoërhof in Windhoek geappelleer, maar dié appèl is ook van die hand gewys.

Kesslau het tydens Esau se eerste aansoek om borgtog bevind dat hy sy posisie as minister misbruik het om kwotas aan Namgomar en die National Fishing Corporation of Namibia (Fishcor) toe te ken. Kesslau het ook bevind dat hy, met die hulp van sy medebeskuldigde en voormalige minister van justisie, Sacky Shanghala, wetgewing gewysig het om korrupte bedrywighede te pleeg.

Ten spyte daarvan dat Kesslau beslis het dat Esau nie ’n vlugrisiko is of met die ondersoek sal inmeng nie, het die staat daarin geslaag om bo redelike twyfel te bewys dat hulle ’n sterk saak teen Esau het.

VAN WYK

Van Wyk het vir Shanghala gewerk en is op 14 Desember 2019 in hegtenis geneem.

Hy is vasgetrek nadat hy sy werkgewer se huis met twee aktetasse met dokumente daarin – wat vermoedelik verband hou met die Fishrot-korrupsieskandaal – verlaat het.

Hy is ook op ’n vorige geleentheid op 27 November 2019 in hegtenis geneem toe hy na bewering probeer het om lede van die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) te keer om ’n plaashuis in die Omahekestreek binne te gaan waar Shanghala en Hatuikulipi daardie dag in hegtenis geneem is.

Hy is aanvanklik van regsverydeling aangekla en staan nou ook tereg op twee klagte van geldwassery met betrekking tot bewerings dat betalings van byna N$700 000 van die maatskappy Otuafika Logistics en N$310 000 van Olea Investments in sy bankrekening ontvang is.

Van Wyk het tydens die borgtogaansoek getuig hy het geen idee waar dié geld vandaan gekom het nie. Hy het dit glo gebruik om Olea Investments se uitgawes te betaal.

Hy meen dat hy as werknemer nie in ’n posisie was om Shanghala en Hatuikulipi oor die oorsprong van die geld uit te vra nie.

Die staatsaanklaer is Ed Marondedze wat saam met Cliff Lutibezi en Ezekiel Ipinge werk.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!