• Tuisblad
  • Howe
  • Esau se vrylating ‘nie in publieke belang’

Esau se vrylating ‘nie in publieke belang’

Borgtogaansoek hervat
Die borgaansoek van twee Fishrot-beskuldigdes het gister begin met sy tweede opeenvolgende week van verrigtinge.
Kristien Kruger
“Die Fishrot-skandaal het wetgewers ingesluit wat veronderstel was om die wet te handhaaf en in die publiek se belang op te tree.

“Hulle het geld wat veronderstel was om tot die publiek se voordeel aangewend te word, herlei na hulself, hul medebeskuldigdes en hul entiteite om hulself te bevoordeel.”

So het die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) se ondersoekbeampte, Andreas Kanyangela, tydens gister se hervatting van die Fishrot-beskuldigdes, Bernhard Esau en Nigel van Wyk, se borgtogaansoek in die hoërhof in Windhoek gesê.

Kanyangela voer aan dat Esau nie op borgtog vrygelaat moet word nie aangesien dit nie in die publieke belang sal wees nie.

“Mense is nou bewus van wat gebeur het en hoeveel geld daar betrokke was. Hulle verwag dat mense wat in hoë posisies is en die wet oortree, verhoor en skuldig of onskuldig bevind word sonder dat hulle bevoordeel word,” meen hy.

Kanyangela het verder daarop gewys dat lede van die publiek destyds betoog het nadat die Fishrot-skandaal aan die lig gekom het en dat daar selfs ’n betoging in Ysland gehou is. Hy is ook van mening dat Esau moontlik op die vlug sal slaan as hy op borgtog vrygelaat word.

Hy het verwys na die voorval verlede jaar by die Windhoek Sentrale Gevangenis toe Esau se medebeskuldigdes, Sacky Shanghala en James Hatuikulipi, se selfone gekonfiskeer is. Die internet-soekgeskiedenis het gefokus op Dubai se uitlewering.

“Ons weet daar is van die geld na Dubai oorgeplaas. Hy kan vlug na daardie land en die geld gebruik om ’n nuwe lewe te begin.”

Kanyangela beweer verder dat Esau goeie verhoudings met die Yslanders van die Samherji-maatskappy het, wat na bewering ook by die Fishrot-skandaal betrokke was, en hulle dalk bereid sal wees om hom te help vlug.

VAN WYK

Ten opsigte van Van Wyk se aansoek om borgtog het Kanyangela getuig dat hy moontlik by die ondersoek en getuies sal inmeng indien sy aansoek toegestaan word.

Hy meen die klagte waarop Van Wyk teregstaan is ’n aanduiding hiervan. Van Wyk is die eerste keer in hegtenis geneem toe hy na bewering gepoog het om te keer dat owerhede vir Shanghala en Hatuikulipi in hegtenis neem.

Owerhede het by Shanghala se plaas opgedaag met ’n lasbrief vir hul inhegtenisname en Van Wyk het gesê hulle is nie tuis nie. Hy het na bewering die deur probeer toedruk toe owerhede die huis wou binnegaan.

Van Wyk is daarna egter op borgtog vrygelaat en is later weer in hegtenis geneem toe owerhede hom gevang het toe hy glo dokumente uit Shanghala se huis wou verwyder voordat die polisie dit kon deursoek. Hy het aangevoer hy was besig om Shanghala se dokumente na sy nuwe kantoor te skuif, maar die staat beweer hy het onder opdrag van Shanghala opgetree.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!