Die Britse miljardêr en moordbeskuldigde, Harvey Boulter. Foto Argief
Die Britse miljardêr en moordbeskuldigde, Harvey Boulter. Foto Argief

Familie se eis teen Boulter reg vir verhoor

N$84 miljoen in skadevergoeding
Die verhoor is verlede week geskeduleer en sal oor net meer as 'n maand in die hoërhof in Windhoek begin.
Kristien Kruger
Die siviele saak wat wyle Gerhard van Wyk se vrou en kinders teen die Britse miljardêr, Harvey Boulter, aanhangig gemaak het se verhoor is verlede week Donderdag vir 8 September vanjaar geskeduleer.

Alta van Wyk, haar en die oorledene se kinders, Gerhard (jr.), Michelle, asook hul skoondogter Liani, eis altesaam sowat N$84,5 miljoen in skadevergoeding nadat Boulter op 27 Februarie na bewering vir Van Wyk (sr.) noodlottig in die abdomen geskiet het.

Gerhard (sr.) was die plaasbestuurder op Boulter se plaas naby Outjo en sy weduwee, hul twee kinders en skoondogter het ook vir Boutler gewerk.

Alta eis alleenlik sowat N$50 miljoen. Sy eis sowat N$33 miljoen vir verlies aan ondersteuning; N$16 miljoen vir algemene skadevergoeding; verlies aan inkomste en 'n vrystelling van haar dienskontrak en betaling van N$137 500; N$1 miljoen vir ondraaglike lewensomstandighede ná die voorval en N$ 24 500 vir vervoerkoste en begrafnisuitgawes.

Gerhard (jr.) eis altesaam N$22,7 miljoen vir algemene skadevergoeding, verlies aan ondersteuning en ondraaglike lewensomstandighede ná die voorval.

Michelle eis N$8 miljoen en sy skoondogter N$3,9 miljoen weens dieselfde redes.

Die algemene vergoeding verteenwoordig, volgens die eis, die emosionele trauma, skok, pyn en lyding wat die familie moes verduur toe hul moes aanskou hoe die oorledene geskiet is en hul pogings om sy lewe te red.

Die verhoordatums is Donderdag deur regter Orben Sibeya in die hoërhof in Windhoek geskeduleer.

AGTERGROND

Die skietvoorval het tydens ’n Saterdagmiddag-spitbraai op die plaas plaasgevind. ’n Bakleiery het glo tussen Gerhard (jr.) en Boutler begin nadat Boutler glo iets onvanpas vir Liani gesê het.

Gerhard (sr.) het tussenbeide getree en Boulter het hom geskiet. Boulter beweer egter dit was ’n ongeluk en dat die koeël selfs deur sy (Boulter se) linkerpalm gegaan het waarmee hy die geweerloop glo toegehou het.

Gerhard (sr.) is op pad na die hospitaal aan sy beserings dood.

VIER HANGENDE SAKE

Boulter se strafregtelike verhoor, waarin hy teregstaan op ’n moordklag, is verlede week geskeduleer vir 16 November. Dié verhoor is uitgestel weens ’n aansoek wat Boutler teen die aanklaer-generaal, Martha Imalwa, aanhangig gemaak het waarin hy beweer sy het verkeerdelik besluit om hom vir moord te vervolg.

“Die aanklaer-generaal se besluit moet tersyde gestel word, aangesien sy irrasioneel opgetree het deur te besluit om my bloot te verhoor met die hoop daar sal tydens die verhoor inkriminerende bewyse teen my na vore kom,” voer hy in sy verklaring aan.

Nog ’n saak teen hom dien tans voor die hof waarin vyf individue versoek dat die hoërhof in Windhoek hom moet beveel om aan ’n hofbevel wat in Julie 2020 deur ’n hof in Dubai uitgereik is, te voldoen.

Die vyf burgers van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) beweer Boulter het hulle uit meer as N$56,9 miljoen geswendel.

Volgens dié hofbevel is Boulter beveel om N$56,5 miljoen aan hulle terug te betaal.

Die applikante het glo die geld in Boulter se maatskappye belê ná hy na bewering aan hulle gesê het dat sy maatskappye groot winste genereer. Die vyf was glo onder die indruk deur aandele in Boulter se maatskappye te koop, sou dit hulle goeie opbrengste verseker.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!