Ferrari-weduwee getuig oor man se dood

Steekwonde, kapwonde van panga
Daniele Ferrari is dood verklaar kort nadat sy vrou by die toneel by die Avisdam aangekom het.
Rita Kakelo
Die sigbaar emosionele weduwee van Daniele Ferrari (52), wat vier jaar gelede by die Avisdam vermoor is waar hy gereeld met sy honde gaan stap het, het in die hof getuig sy het ’n ambulans ontbied om haar erg beseerde en bebloede man te hulp te snel.

Daniele het verskeie kapwonde van 'n panga asook steekwonde gehad.

Odette Ferrari het getuig in die verhoor van Johannes Shetunyenga (35), Kefas Iileka (36) en Antonio Cheme (28) wat vandeesweek in die hoërhof in Windhoek voor regter Naomi Shivute hervat het.

Sy het oor die tragiese aand van 14 Julie 2020 getuig toe sy ’n oproep van haar ontstelde skoonsuster, Gloria Ferrari, ontvang het om dringend ’n ambulans na die Avisdam te ontbied.

“Ek het my man, Daniele, die laaste keer daardie middag gesien toe hy weg is om met die honde te gaan stap. Dit was die laaste keer wat ek hom gesien het,” het sy emosioneel getuig.

Volgens Odette het sy haar broer gebel om haar na die Avisdam te neem. Met haar aankoms het sy haar man bedek met bloed in sy motor gevind.

“Toe ek daar aankom, was die nooddienste, polisie en buurtwag reeds op die toneel. Kort nadat ek daar aangekom het, het hulle hom dood verklaar,” het sy in die hof gesê.



GRU-AANVAL

Die sakeman het probeer om na sy motor te ontsnap, maar die verdagtes het hom agterna gesit.

Gloria het later sy liggaam in sy motor in die parkeerterrein by die dam met pangawonde op sy kop en veelvuldige steekwonde aan sy liggaam gevind.

Volgens die staatsaanklaer, Ethel Ndlovu, het die drie beskuldigdes na bewering ’n stel sleutels, ’n Switserse militêre horlosie ter waarde van N$5 200, ’n beursie, ’n Samsung-selfoon en ’n swart gordel van Daniele tydens die aanval gesteel.

Tjiuma Mauuana, ’n intelligensiebeampte van die Namibiese weermag en nabye neef van Iileka, het hom aan die verkeerde kant van die gereg bevind toe hy in besit van Daniele se gesteelde horlosie betrap is.

Mauuana, wat Iileka die afgelope 20 jaar ken, het voor Shivute getuig hy het die horlosie ’n paar dae ná die beweerde rooftog by Iileka gekry, terwyl hulle drankies by Iileka se huis in Havana gedrink het.

“Ek het gesien Iileka dra ’n spoggerige horlosie wat duur gelyk het en het hom gevra om dit vir my te gee. Hy het dit sonder huiwering gedoen,” het Mauuana gesê.

Hy het volgehou hy het nie gevra waar Iileka die horlosie gekoop of wat dit gekos het nie.

Op 24 November 2020 het ondersoeke speurders van die misdaadeenheid en militêre polisiebeamptes na Mauuana gelei. Hy het getuig hy was by die Brewers Market in Windhoek toe militêre polisiebeamptes hom na buite geroep het om hom te ondervra oor die horlosie wat hy aangehad het.

“Ek is deur militêre polisiebeamptes geroep wat my gevra het om uit die mark te gaan en in hul motor te klim,” het Mauuana gesê.

Tydens ondervraging het die beamptes gevra of hy Iileka ken en of hy bewus was van die misdade waarby hy na bewering betrokke was.

Hy het erken hy ken vir Iileka, maar het ontken dat hy enige kennis van die misdade dra.

“Hulle het die situasie verduidelik en ek het gevolglik die horlosie aan die polisie oorhandig.”

Iileka se regsverteenwoordiger, Mbanga Siyomunji, het tydens kruisondervraging Mauuana daarvan beskuldig dat hy bewus was van Iileka se betrokkenheid by die misdaad en dat hy nie die oorsprong van die horlosie bevraagteken het nie. Die verhoor duur voort.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 25° Rundu: 20° | 28° Eenhana: 22° | 30° Oshakati: 22° | 27° Ruacana: 18° | 30° Tsumeb: 20° | 24° Otjiwarongo: 17° | 27° Omaruru: 19° | 30° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 19° | 29° Henties Bay: 17° | 18° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 21° Rehoboth: 19° | 30° Mariental: 19° | 33° Keetmanshoop: 16° | 32° Aranos: 20° | 33° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 13° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 27° Lubumbashi: 16° | 18° Mbabane: 19° | 21° Maseru: 17° | 26° Antananarivo: 15° | 31° Lilongwe: 18° | 20° Maputo: 24° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 17° | 21° Durban: 21° | 22° Johannesburg: 17° | 20° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 19° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!