Finale interdik teen Amushelelo

Mag nie dreigemente teen Namib Mills maak
Die hoërhof in Windhoek het gister 'n tydelike interdik teen Michael Amushelelo verander na 'n finale interdik.
Kristien Kruger
’n Finale hofinterdik teen die aktivis, Michael Amushelelo, en sy organisasie is gister uitgereik wat hom verbied om dreigemente teen Namib Mills te maak.

Dit sluit in dreigemente dat hy hulle gaan vernietig, hul bedrywighede gaan staak en hulle “geld laat bloei”.

Amushelelo, asook enige van sy ondersteuners of lede van die Namibia Economic Freedom Fighters (NEFF), word verder verbied om die ingang of uitgang van Namib Mills se persele landswyd te versper of bedrywighede op enige manier te belemmer.

Die interdik belet verder enige onwettige betogings, teistering of intimidasie van Namib Mills se werknemers, kliënte, diensverskaffers of besoekers.

TUSSENTYDSE INTERDIK

Dit volg nadat die hoërhof in Windhoek in April ’n tussentydse interdik teen Amushelelo toegestaan het wat hom verbied het om binne 70 meter van enige van Namib Mills se persele te kom.

Namib Mills het die hof genader nadat Amushelelo verskeie dreigemente op sy Facebookprofiel gemaak het waarin hy die maatskappy indirek van rassisme beskuldig en geïmpliseer het dat hulle hul werknemers onmenslik behandel.

Buiten vir sy plasing op Facebook, het Amushelelo ook, volgens Namib Mills se hofstukke, verskeie kere na sy perseel gekom en die ingang versper sodat die maatskappy se vragmotors nie kon in of uit nie, en het ook voor die perseel betoog.

VRYHEID VAN SPRAAK

“Die applikant [Namib Mills] het aan die vereistes voldoen vir ’n finale interdik. ’n Finale interdik blyk die enigste remedie te wees wat aan die applikant beskikbaar is,” het regter Hannlie Prinsloo in haar uitspraak gesê, wat gister in die hoërhof gelewer is.

Sy het verder daarop gewys dat die interdik nie uitgereik word met die doel om Amushelelo stil te maak of sy reg tot vryheid van spraak te skend nie.

“Vryheid van spraak is die hoeksteen van ons samelewing, maar wanneer vryheid van spraak in stryd is met ander fundamentele regte en onregmatige of strafregtelike optrede tot gevolg het, sal dit in stryd met ons Grondwet wees.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!