Fishcor misluk in poging tot appèl

De Klerk mag nie via videoverbinding getuig
Fishcor se aansoek om verlof tot appèl is Donderdag in die hoërhof in Windhoek van die hand gewys.
Kristien Kruger
“Die hof kan hom nie blind hou vir die feit dat Marèn de Klerk ’n voortvlugtige van die gereg is nie. Daar is geen redelike verduideliking waarom De Klerk nie voor hierdie hof kan verskyn nie. Hierdie saak het dus geen redelike vooruitsig op sukses op appèl nie.”

So lui regter Orben Sibeya se uitspraak waarin hy die National Fishing Corporation of Namibia (Fishcor) se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys het.

Die aansoek om verlof het ten doel gehad om teen die uitspraak te appelleer waarin die maatskappy se aansoek dat Marèn de Klerk via videoverbinding getuig, van die hand gewys is.

Die uitspraak vorm deel van die saak wat Fishcor teen Seaflower Pelagic Processing (SPP), wie se naam intussen na Princess Brand Processing (PBP) verander het, en African Selection Fishing (ASF) aanhangig gemaak het waarin Fishcor eis dat verskeie ooreenkomste – wat volgens hulle onder korrupte omstandighede onderteken is – nietig verklaar moet word.

Fishcor het in sy appèlaansoek aangevoer dat De Klerk die enigste persoon is wat kan getuig oor ’n vergadering wat op 30 Desember 2016 plaasgevind het tussen hom, Adriaan Louw en Fishrot-beskuldigdes Sacky Shanghala en James Hatuikulipi.

Fishcor beweer dat die korrupte skema tydens dié vergadering bespreek is.

“Die feit van die saak is dat beide Shanghala en Hatuikulipi verpligte getuies is wat beskikbaar is in die jurisdiksie van hierdie hof en wat gedagvaar kan word om te getuig oor soortgelyke kwessies soos van De Klerk vereis word,” het Sibeya in sy uitspraak gesê.

Fishcor het verder beweer dat De Klerk se getuienis noodsaaklik tot sy saak is, maar ASF en PBP se regsverteenwoordiger het aangevoer dat dit nie in die belang van regspleging sal wees om ’n voortvlugtige te laat getuig nie.

Sibeya het bevind dat die afwesigheid van De Klerk se getuienis nie die einde van Fishcor se saak sal beteken nie en dat hul daarsonder kan voortgaan

De Klerk is volgens sy verklaring nie bereid om na Namibië terug te keer nie aangesien hy glo vir sy lewe vrees.

“Geen bewyse dui daarop dat die wetstoepassers in Namibië – wat deur die wet verplig word om verdagtes en getuies te beskerm – nie hul funksies sal uitvoer en De Klerk sal beskerm wanneer hy in die land is en sodanige beskerming benodig nie,” lui die uitspraak.

Sibeya het Donderdag die saak tot 16 Februarie vir voorverhoorverrigtinge uitgestel en die moontlike skedulering van verhoordatums.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!