Fishcor probeer weer

Versoek aan hooggeregshof
Fishcor gaan die hoërhof se besluit dat Marèn de Klerk nie via videoverbinding mag getuig nie, in die hooggeregshof uitdaag.
Kristien Kruger
Die National Fishing Corporation of Namibia (Fishcor) is desperaat om die Fishrot-beskuldigde en voortvlutige, Marèn de Klerk, se getuienis in te sluit in hul saak teen African Selection Fishing (ASF) en Seaflower Pelagic Processing (SPP), wie se naam intussen na Princess Brand Processing (PBP) verander is.

Regter Orben Sibeya het in Oktober verlede jaar Fishcor se aansoek dat De Klerk via videoverbinding in die saak getuig, van die hand gewys. Daarna het Sibeya vroeër vanjaar Fishcor se aansoek om verlof tot appèl om teen dié besluit in die hooggeregshof te appelleer, ook van die hand gewys.

Ten spyte van die bogenoemde mislukkings maak Fishcor nou gebruik van hul laaste moontlike uitweg deur ’n versoek aan die hooggeregshof te rig om die besluit te hersien.

Fishcor se saak teen ASF en PBP beoog om drie ooreenkomste tussen die maatskappye - wat volgens hulle onder korrupte omstandighede onderteken is - nietig te laat verklaar.

Fischor beweer De Klerk se getuienis is noodsaaklik in hulle saak. Hy is volgens hulle die enigste een wat kan getuig oor ’n vergadering wat in Desember 2016 tussen homself, die Fishrot-beskuldigdes Sacky Shanghala en James Hatuikulipi, en die sakeman Adriaan (AJ) Louw plaasgevind het. Die korrupte skemas wat glo tot die drie betrokke ooreenkomste gelei het, is na bewering tydens dié vergadering bespreek.

DE KLERK

De Klerk beweer hy het ’n integrale rol gespeel deur advies te gee en insette te lewer in verband met die ooreenkomste wat Fishcor ongeldig wil laat verklaar.

Hy het verder gesê die korrupte skema sou nie moontlik wees sonder Shanghala en Bernard Esau as regeringsverteenwoordigers, Hatuikulipi en Mike Nghipunya by Fishcor, en Louw en sy finansiële adviseur, Johannes Breed, by ASF en PBP, se bydrae nie.

De Klerk het in Januarie 2020 skielik die land verlaat toe sy beweerde betrokkenheid by die Fishrot-korrupsieskandaal aan die lig gekom het.

Hy beweer nou dat hy nie veilig voel om terug te keer na Namibië nie, omdat hy vrees vir sy lewe.

HOËRHOFUITSPRAAK

Sibeya het in Januarie vanjaar Fishcor se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys en beslis dat die saak sonder De Klerk se getuienis kan voortgaan.

“Die hof kan hom nie blind hou vir die feit dat Marèn de Klerk ’n voortvlugtige van die gereg is nie. Daar is geen redelike verduideliking waarom De Klerk nie voor hierdie hof kan verskyn nie,” lui die uitspraak

Hy het verder uitgewys dat daar geen bewyse is wat daarop dui dat die wetstoepassers in Namibië – wat deur die wet verplig word om verdagtes en getuies te beskerm – nie hul verpligtinge sal uitvoer en De Klerk sal beskerm wanneer hy in die land is en sodanige beskerming benodig nie.

[email protected]

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!