Fishrot-6 hoor binnekort oor borgtog

Uitspraak op 1 April
Die staat voer aan die beskuldigdes is vlugrisiko's omdat hulle geld in 'n ander lande het en weet hulle kan nie daarvandaan uitgelewer word nie.
Kristien Kruger
Regsverteenwoordigers het Vrydag hulle finale betoë in die hoërhof in Windhoek gelewer in die aansoek om borgtog van ses van die Fishrot-beskuldigdes.

Regter Shafimana Ueitele sal op 1 April mnre. Sacky Shanghala, James Hatuikulipi, Pius Mwatelulo, Mike Nghipunya, Otneel Shuudifonya en Philipus Mwapopi se uitspraak om borgtog lewer.

Staatsaanklaer Cliff Lutibezi het in sy finale betoë aangevoer dit is waarskynlik dat die beskuldigdes sal vlug en/of by die ondersoek sal inmeng indien hulle op borgtog vrygelaat word.

Lutibezi het na drie vorige insidente verwys waar die beskuldigdes by die ondersoek probeer inmeng het, waarvan sommige selfs vanuit die tronk gebeur het.

“As hulle by ondersoeke kan inmeng terwyl hulle in aanhouding is, wat gaan hulle doen as hulle op borgtog vrygelaat word?”

VLUGRISIKO

Lutibezi het ook na die onlangse voorval verwys waar Shanghala met ’n selfoon in die tronk betrap is en waar hulle kon sien hy het navorsing gedoen oor uitlewering.

“Hierdie is ’n persoon met regskennis en waarskynlik weet dat Namibië geen uitleweringsooreenkoms met die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) het nie,” het Lutibezi Vrydag in die hof gesê.

Die Teenkorrupsiekommissie (ACC) se ondersoekbeampte, hoofinspekteur Andreas Kanyangela, het getuig oor Fishrot-geld wat in ’n rekening in Dubai is.

“Hulle het die geld en kan ’n nuwe lewe daar begin. Dit sal onmoontlik wees om hulle daar uit te kry,” het Lutibezi bygevoeg.

‘IS DIT REGVERDIG?’

Ueitele het tydens sy finale betoë aan Lutibezi uitgewys dat die beskuldigdes reeds 27 maande in aanhouding is en dat hulle volgens die wet onskuldig is totdat hulle skuldig bevind word.

“Is dit in pas met regspleging? Is dit regverdig?” het hy gevra.

“Ja, dit is regverdig en volgens regspleging as ’n mens die risiko’s van hulle vrylating ook in ag neem," het Lutibezi geantwoord.

Al ses beskuldigdes het gesê hulle sal nie vlug of by die ondersoek inmeng nie, en alle borgtogvoorwaardes nakom.

Nghipunya se regsverteenwoordiger, mnr. Thabang Phatela, het in sy finale betoë daarop gewys dat Nghipunya na Japan gereis het nadat hy reeds geweet het hy is ’n verdagte in die Fishrot-skandaal.

Phatela het aangevoer sy kliënt het die geleentheid gehad om te vlug, maar het besluit om terug te kom vir sy verhoor.

Phatela het gesê Nghipunya het ’n potensiële getuie op twee geleenthede gekontak, maar hy het glo ten tye van dié kontak nie geweet hy is ’n verdagte nie.

Ueitele het wel uitgewys dat Phatela homself weerspreek, want die korrespondensie met die potentiële getuie was rondom dieselfde tyd wat Nghipunya in Japan was. Hy moes dus reeds geweet het dat hy ’n verdagte was.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!