• Tuisblad
  • Howe
  • Fishrot: ACC-ondersoeker terug in getuiebank

Fishrot: ACC-ondersoeker terug in getuiebank

Borgtogaansoek hervat
Twee van die tien Fishrot-beskuldigdes se borgtogaansoeke word tans weer aangehoor.
Kristien Kruger
“Hy [Bernhard Esau] het nie die waarheid vertel nie. Hy het sy magte gebruik om die taakspan wat veronderstel was om die Memorandum van Verstandhouding (MoU) met Angola te hanteer, uit te sluit.”

Só het die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) se hoofondersoekbeampte in die Fishrot-skandaal, Andreas Kanyangela, tydens die hervatting van Esau en Nigel van Wyk se borgtogaansoek in die hoërhof in Windhoek gesê.

Kanyangela verwys na die memorandum wat Esau in 2013 as minister van visserye en mariene hulpbronne met sy Angolese eweknie aangegaan het. Die staat beweer dié memorandum is gebruik as grondslag vir die Fishrot-skema en die beskuldigdes – nou bekend as die Fishrot-tien – se misbruik van visvangkwotas om hulself te bevoordeel.

Volgens Kanyangela se getuienis is tydens sy ondersoek bevind dat die beskuldigdes ’n maatskappy gestig het onder die naam Namgomar Pesca SA – wat viskwotas ingevolge die bogenoemde memorandum ontvang het. ’n Ander Fishrot-beskuldigde, Ricardo Gustavo, was die direkteur van die maatskappy. Kanyangela voer verder aan dat Gustavo se Namibiese maatskappy, Paw Print Investment, sy naam na Namgomar Pesca Namibia verander het.

Volgens Kanyangela het Namgomar Pesca Namibia die opbrengs van die viskwotas ontvang wat aan Namgomar Pesca SA toegeken is. Volgens sy ondersoek het Namgomar Pesca SA glo nooit werklik bestaan nie.

MILJOENE NA BESKULDIGDES

Kanyangela het gister getuig dat Namgomar Pesa SA ’n kwota vir 50 000 metrieke ton maasbanker ontvang het, wat destyds ’n waarde van ongeveer N$150 miljoen beloop het.

Hy het verder bevestig nie een sent van daardie geld is tot voordeel van Namibië aangewend, soos die memorandum vereis het nie. Pleks daarvan het dit glo in die beskuldigdes se sakke beland.

Namgomar Pesca Namibia het na bewering geen ander bron van inkomste gehad buiten vir die kwotas nie. Die staatsaanklaer, Ed Marondeze, het tydens gister se verrigtinge deur bewysstukke gegaan wat verband hou met miljoene dollars wat na bewering vanaf Namgomar Pesca Namibia na Fishrot-beskuldigdes en hul entiteite oorbetaal is.

Esau het die hof Woensdag verseker dat hy nie kwotas toegeken het nie, maar glo net aanbevelings goedgekeur het. Hy het getuig hy was nie betrokke by die opstel van die memorandum nie en het dit slegs onderteken. Kanyangela het aangevoer dat hy nie die waarheid praat nie.

“Wanneer die permanente sekretaris vir hom dokumente bring om te teken, moet hy dit deurgaan. As hy dit teken, beteken dit hy stem saam met die inhoud, anders was hy nalatig.”

Kanyangela het ook gister getuig dat hy met Albert Kawana – wat destyds die minister van presidensiële sake was – tydens sy ondersoek gepraat het. Hy was glo geensins deel van die ondertekening van die memorandum wat in 2013 in Angola plaasgevind het nie.

“Hy [Kawana] het gesê iemand van sy kantoor moes aangestel word om deel van die afvaardiging te wees,” het Kanyangela getuig.

Nadat die borgtogaansoeke vir sowat drie maande onderbreek is, het verrigtinge Woensdagoggend hervat. Dit sal na verwagting vandag voortduur en volgende week voortgaan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!