Die aanklaer-generaal, Martha Imalwa. Foto Argief
Die aanklaer-generaal, Martha Imalwa. Foto Argief

Fishrot: AG se aansoek toegestaan

Glo in die belang van geregtigheid
Die hof het verlede week beslis dat die aanklaer-generaal bykomende beëdigde verklarings kan indien wat betrekking het tot die Yslanders se moontlike uitlewering na Namibië.
Kristien Kruger
“Die hof het bevind die belang van geregtigheid ondersteun die aanklaer-generaal se aansoek om sodoende die hof op hoogte te hou van die vordering van die uitleweringsversoek.”

So het regter Orben Sibeya Donderdag in die hoërhof in Windhoek gesê toe hy die aanklaer-generaal (AG), Martha Imalwa, se aansoek toegestaan het om bykomende beëdigde verklarings in te dien in haar saak teen die Fishrot-beskuldigdes.

Imalwa se saak is in 2020 gebring in terme van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (Poca) en beoog om die Fishrot-beskuldigdes se bates aan die staat verbeurd te laat verklaar.

In die huidige aansoek het Imalwa gepoog om verslag te doen oor die status van die beoogde uitleweringsverrigtinge en het aansoek om verlof gebring om verdere verklarings in te dien om die Yslandse beëdigde verklarings op rekord te plaas.

Die Fishrot-beskuldigdes het die aansoek teengestaan.

Hulle het aangevoer dat Imalwa versuim het om buitengewone omstandighede vas te stel wat die verlof sou regverdig. Hulle het ook aangevoer sy het nie verduidelik waarom die aansoek so laat gebring word nie.

“Die verweerders voer aan die AG beantwoord nie hul stelling nie, dat die gebied van Ysland nie die uitlewering van sy burgers aan ’n ander land toelaat nie. Hulle voer aan, in die afwesigheid van die moontlikheid van uitlewering, ’n bykomende beëdigde verklaring die saak nêrens sal bring nie,” het die uitspraak die verweerders se betoë saamgevat.

Imalwa het aangevoer dat die verwikkelinge in die strafregtelike ondersoek die afgelope twee jaar die finalisering van die uitleweringsverrigtinge vertraag het.

Sibeya het egter beslis dat Imalwa ’n bevredigende verduideliking verskaf het vir waarom sy nie die inligting vroeër voor die hof geplaas of hierdie aansoek op ’n vroeëre stadium ingedien het nie.

Sibeya meen dat dié uitspraak die situasie sal vermy waar die hof verouderde inligting het waarvan die korrektheid bevraagteken kan word om ’n kwessie tussen partye te bepaal.

“Dít kan sekerlik nie in die belang van geregtigheid wees nie.”

Imalwa het tydens die aanhoor van die aansoek aangevoer dat die bykomende beëdigde verklarings sal wys watter stappe geneem is om die buitelandse [Yslandse] direkteure van die sekere entiteite wat as partye by die Poca-verrigtinge ingesluit is, aan Namibië uit te lewer. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!