Fishrot: Hof hoor oor ACC-ondersoek

Kanyangela onder kruisondervraging
Die borgtogaansoek van twee Fishrot-beskuldigdes is die afgelope twee weke in die hoërhof in Windhoek aangehoor.
Kristien Kruger
”Jy [Andreas Kanyangela] het deur hierdie dokumente gegaan en bloot gevolgtrekkings gemaak sonder om die akkuraatheid daarvan te ondersoek of vas te stel wat werklik gebeur het.”

Dit het die Fishrot-beskuldigde, Bernhard Esau, se regsverteenwoordiger, Florian Beukes, gister tydens Esau en sy medeskuldigde, Nigel van Wyk, se borgtogaansoek aangevoer oor bewysstukke wat as deel van die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) se ondersoek ingesamel is.

Die ACC se ondersoekbeampte, Andreas Kanyangela, het geantwoord dat die dokumente ondersteun word deur die verklaring van die Fishrot-hokaairoeper, Jóhannes Stefánsson.

“So ons moet net aanvaar wat Stefánsson sê? Die selferkende misdadiger.” het Beukes gesê.

“Aanvaar dit as jy wil. As jy nie wil nie, hoef jy nie,” het Kanyangela teruggekap.

“Ons aanvaar dit nie en ons daag alles uit wat hy [Stefánsson] gesê het,” het Beukes die lyn van ondervraging afgesluit.

‘SELEKTIEWE ONDERSOEK’

Beukes het tydens kruisondervraging ’n deel van die Fishrot-beskuldigde, Marén de Klerk, se verklaring gelees wat in Februarie 2020 afgelê is.

Die gedeelte van die verklaring handel oor sowat N$6 miljoen wat die Swapo-party na bewering ontvang het.

“Ek het met James [Hatuikulipi] en Sacky [Shanghala] ontmoet en hulle het gesê die president het hulle opdrag gegee om strukture in plek te sit vir bydraes wat aan die party betaal word,” luidens De Klerk se verklaring.

Beukes het daarop gewys dat die president, volgens De Klerk, instruksies gegee het.

“Het jy dit ondersoek? Het jy ’n verklaring by die president gekry?” het Beukes vir Kanyangela gevra.

Kanyangela het toegegee dat hy nie die bewering ondersoek het nie en het die president se immuniteit teen vervolging as rede verskaf.

“Jy was selektief in jou ondersoek. As dit wat De Klerk in sy verklaring sê waar is, beteken dit dat Esau niks te doen gehad het met die geld wat aan Swapo betaal is nie,” beweer Beukes.

Kanyangela moes meer as een keer tydens kruisondervraging erken dat hy nie alle aspekte van die ministerie se prosesse ten opsigte van nominasies en toekenning van viskwotas ondersoek het nie.

Beukes het aangevoer dat die permanente sekretaris van die ministerie dit hanteer het en Esau het die dokumente na bewering net afgeteken.

NALATIGHEID

Kanyangela het reeds in sy hoofgetuienis gesê Esau, die voormalige minister van visserye en mariene hulpbronne, was nalatig om dokumente te teken sonder die nodige omsigtigheid. Esau het dié aantyging glo aan Beukes erken.

“Ek stem saam met jou en ek doen dit nie gereeld nie. Esau het self vir my gesê dat hy nalatig was en dat dit hom nou in die moeilikheid gebring het.”

Beukes beweer wel dat Esau “in vertroue, in goedertrou en op aanbevelings” opgetree het.

“Hy sê indien daar ’n bedrogspul was, het hy nie daarvan geweet nie en is hy sekerlik gebruik,” het Beukes gesê, waarna Kanyangela gesê het hy stem nie saam met daardie stelling nie.

VERRIGTINGE

Beukes het sy kruisondervraging van Kanyangela gister afgesluit en Van Wyk se verteenwoordiger, Mbanga Siyomuinji, het met sy kruisondervraging begin. Verrigtinge sal na verwagting vandag voortduur.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!