• Tuisblad
  • Howe
  • Fishrot: Pleitverrigtinge uiteindelik afgehandel
Foto argief
Foto argief

Fishrot: Pleitverrigtinge uiteindelik afgehandel

Shanghala misluk in nóg ’n aansoek
Die pleitverrigtinge van die Fishrot-beskuldigdes is Vrydag uiteindelik afgehandel ná 'n lang vertraging.
Kristien Kruger
Byna ’n jaar nadat die Fishrot-beskuldigdes se pleitverrigtinge vertraag is, het dit verlede week in die hoërhof in Windhoek hervat. Dit was egter nie sonder uitdagings nie.

Die verrigtinge is Vrydag amper weer eens vertraag met nog ’n aansoek wat onverwags deur Sacky Shanghala gebring is.

Shanghala, wat die meerderheid van die aansoeke in die verlede gebring het, het weer die kwessie van jurisdiksie en die aanstelling van regter Moses Chinhengo onder die loep gebring.

Dié keer het hy ’n aansoek ingevolge afdeling 317 van die strafproseswet gebring en aangevoer dit is ’n onreëlmatigheid in die verhoor en dat die verhoor nie sonder ’n beslissing oor die kwessie van jurisdiksie kan voortgaan nie.

Chinhengo het die aansoek van die hand gewys en in sy uitspraak daarop gewys dat hierdie nie die eerste aansoek is wat oor dié kwessie handel nie. Hy het bevind dit is ’n misbruik van prosesse.

Shanghala het tydens Vrydag se verrigtinge daarop gewys dat Chinhengo nie enige van sy aansoeke toestaan nie.

“Meneer Shanghala, as jy ’n goeie punt maak, dan sal ek dit toestaan. Ek sal ’n aansoek toestaan wat meriete het.

“Jy kan honderde aansoeke bring. As jy nie ’n goeie punt maak nie, sal dit nie slaag nie. As jy ’n goeie punt maak, sal dit slaag,” het Chinhengo gesê.



PLEIT

Nadat Shanghala se aansoek van die hand gewys is, was partye gereed om met die pleitverrigtinge voort te gaan en het die staatsaanklaer, Cliff Lutibezi, hervat waar hy die vorige dag geëindig het. Sommige beskuldigdes was egter steeds nie bereid om te pleit nie en ’n pleit van onskuldig is namens elkeen aangeteken.

Aanklagte tien tot 42 is tydens Vrydag se verrigtinge afgehandel. Dit sluit in onder meer aanklagte van bedrog, dwarsboming van die gereg, geldwassery, sameswering en die korrupte misbruik van posisies en magte.

Bernard Esau, Mike Nghipunya, Tamson Hatuikulipi, Philllipus Mwapopi en Otneel Shuudifonya was die enigste beskuldigdes wat prontuit onskuldig gepleit het.

Shanghala, James Hatuikulipi en Pius Mwatelulo het geweier om te pleit op grond daarvan dat die hof glo nie die jurisdiksie het om die saak aan te hoor nie en dit sluit aan by die kwessie van Chinhengo se aanstelling en die hangende aansoek in verband daarmee.

Chinhengo het ’n pleit van “onskuldig” namens al drie aangeteken.

Ricardo Gustavo het ook daarop gewys dat hy nie in staat is om te pleit nie omdat hy nie regsverteenwoordiging het nie – ’n pleit van onskuldig is ook namens hom aangeteken vir alle aanklagte waarop hy teregstaan.

Nigel van Wyk, die enigste van die tien beskuldigdes wat tans op borgtog is, het aangedui dat hy wel regsverteenwoordigers het, maar hulle nie Vrydag se verrigtinge kon bywoon nie en hy dus ook nie bereid is om te pleit nie. Chinhengo het ook ’n pleit van onskuldig namens hom aangeteken.

Die saak is Vrydag tot **** uitgestel vir die hervatting van die verhoor.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 28° Rundu: 21° | 33° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 20° | 36° Tsumeb: 21° | 31° Otjiwarongo: 19° | 32° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 19° | 31° Gobabis: 20° | 32° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 19° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 17° | 34° Keetmanshoop: 16° | 34° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 15° | 34° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 22° | 31° Lubumbashi: 17° | 21° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 17° | 29° Antananarivo: 16° | 28° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 23° | 37° Windhoek: 19° | 31° Cape Town: 18° | 24° Durban: 22° | 31° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 26° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!