Die Fishrot-beskuldigde, Nigel van Wyk. Foto Argief
Die Fishrot-beskuldigde, Nigel van Wyk. Foto Argief

Fishrotter in hof vir uitdaging van klagtes

Aansoek uitgestel tot 21 Mei
Nigel van Wyk se hofsaak teen die aanklaer-generaal, Martha Imalwa, vorder stadig.
Kristien Kruger
Die saak waarin die Fishrot-beskuldigde, Nigel van Wyk, poog om sommige van die aanklagte teen hom uit te daag, is gister tot 21 Mei uitgestel.

In hierdie aansoek wat Van Wyk by die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak het, versoek hy die hof om agt van die strafregtelike aanklagte wat teen hom gebring is in die Fishrot-korrupsiesaak, tersyde te stel.

Hy daag die aanklaer-generaal, Martha Imalwa, se besluit uit om hom van dié klagte aan te kla en hom daarvoor te dagvaar.

Hy voer in sy verklaring aan dat Imalwa nie ingevolge die Grondwet opgetree het in haar besluit om hom op hierdie klagte te dagvaar nie omdat dit, volgens Van Wyk, arbitrêr en irrasioneel is.

Hy voer verder aan dat daar nie genoegsame bewyse is om hom van die aanklagte aan te kla of te vervolg nie.

“Ek [Van Wyk] het die dossier wat deur die respondente bekend gemaak is deurgelees en in daardie dossier het ek nie ’n enkele getuieverklaring gevind deur enige persoon wat sou getuig dat ek geweet het van die beweerde kriminele skemas nie.

“Ek voer aan daar is nie ’n enkele getuie wat beweer dat ek deelgeneem het aan die beplanning of implementering van die beweerde kriminele dade nie,” lui Van Wyk se verklaring.

AANKLAGTE

Die aanklagte wat Van Wyk uitdaag het betrekking tot die beweerde oortreding van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (Poca) en sluit in geldwassery, rampokkery, bedrog en diefstal.

“Hierdie aanklagte kan slegs teen my gebring word as ek werklik kennis gedra het van die beweerde kriminele aktiwiteite. Die aanklaer-generaal kan nie op aannames staatmaak nie, maar moet haar besluite op werklike bewyse baseer,” voer Van Wyk aan.

GLO N$2 M. ONTVANG

Van Wyk is in Desember 2019 in hegtenis geneem en volgens die ouditverslag wat die beweerde finansiële oortredings van die Fishrot-beskuldigdes saamvat, het hy tussen 2017 en 2019 glo byna N$2 miljoen van sy medebeskuldigdes en hul entiteite ontvang.

Van Wyk voer egter aan daar is geen bewyse dat hy enige kennis gedra het dat die geld wat hy ontvang het, opbrengste van kriminele aktiwiteite was nie.

“Die verslag kriminaliseer die ontvangs van geld wat ek by my werkgewer gekry het. Die verslag identifiseer nie die salarisse wat ek ontvang het nie, dit gooi bloot al die geld bymekaar en aanvaar ek is skuldig aan geldwassery en rampokkery,” het Van Wyk in sy verklaring gesê.

HOFBEVEL

Partye het gister voor regter Eileen Rakow in die hoërhof in Windhoek verskyn.

Hoewel Imalwa nog nie ’n verklaring ingedien het nie, het sy reeds die hof in kennis gestel van haar voorneme om die saak teen te staan.

Ingevolge ’n hofbevel wat gister uitgereik is, moet sy voor 22 April haar beantwoordende verklaring by die hof indien.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!