• Tuisblad
  • Howe
  • Fishrotters kla oor skuif na gemeenskaplike selle

Fishrotters kla oor skuif na gemeenskaplike selle

Uitspraak geskeduleer vir 10 Junie
Sewe Fishrot-beskuldigdes beweer hul veiligheid is in gedrang en dat ander gevangenes hulle in die verlede gedreig en uitgetart het.
Kristien Kruger
Vanaf enkelaanhoudingselle met goeie internetverbinding, televisie en ander voordele, na die gemeenskaplike eenheid saam met ander verhoorafwagtende gevangenes.

Dit is die skuif wat sewe van die Fishrot-beskuldigdes by die Windhoek Sentrale Gevangenis op 1 Mei moes maak.

Hulle het wel hul ontevredenheid met dié besluit van die Namibiese Korrektiewe Dienste (NCS) ten sterkste uitgespreek en die hoërhof in Windhoek op ’n dringende basis genader in ’n poging om dié skuif tersyde te stel.

In die verklaring van een van die beskuldigdes, James Hatuikulipi, wys op die feit dat hy en sy medebeskuldigdes die afgelope vyf jaar die meeste van die tyd by die gevangenis se C-afdeling aangehou is.

“Die C-afdeling is onlangs toegerus met beter internetverbinding. Die lywige dossier is in ’n sel in hierdie eenheid geplaas wat slegs vir daardie doel gebruik word en dit dien ook as ’n televisiekamer en is toeganklik vir ons almal in die eenheid,” lui Hatuikulipi se verklaring.

Hy bevraagteken ook hoe hy en sy medebeskuldigdes met mekaar moet konsulteer as hulle na “gewone selle” oorgeplaas word.

“Ons voel nie gemaklik om ons saak te bespreek met persone wie se belange dalk is om inligting of verkeerde inligting aan die NCS [Namibiese korrektiewe Dienste], die ACC [Teenkorrupsiekommissie] of die staat te verkoop nie.”

Die sewe Fishrot-beskuldigdes is op 1 Mei na die Echo-eenheid oorgeplaas, behalwe vir die voormalige minister van visserye en mariene hulpbronne, Bernard Esau, wat steeds in ’n enkelsel by die C-afdeling aangehou word.

Partye het gister in die hof verskyn om slotbetoë te lewer en die hof het die uitspraak vir 10 Junie geskeduleer.

‘IN GEVAAR’

Volgens die NCS se kommissaris-generaal, Raphael Hamunyela, is die Fishrot-beskuldigdes aanvanklik in die C-afdeling geplaas op versoek van die ondersoekbeamptes wat in die strafregtelike saak teen hulle betrokke is.

Die NCS is glo versoek om hulle te isoleer terwyl die ondersoek voortduur.

“Ons was nooit van plan om hulle onbepaald daar te los nie,” het hy in sy verklaring gesê en bygevoeg dat die enkelselle gebruik word in gevalle waar ’n gevangene ’n aansteeklike siekte het, vir gevangenes wat studeer of vir ondersoek- en veiligheidsdoeleindes.

Hatuikulipi beweer in sy verklaring dat hulle meegedeel is dat hulle vir hul eie veiligheid apart aangehou word. Hy meen hulle is steeds nie veilig nie.

“Ons [Fishrot-beskuldigdes] word byna altyd gedreig of uitgetart deur gevangenes wat ons daarvan beskuldig dat ons ‘hul vis geëet’ of ‘hul geld gesteel’ het. Sommige dreig selfs om visse in ons liggaamsopeninge in te druk,” word daar in hofstukke beweer.

Hatuikulipi het verder aangevoer die gevaar lê nie net by die ander gevangenes nie, maar ook by die tronkbewaarders.

“Sommige bewaarders voel in die gesig gevat omdat ons dit gewaag het om teen hulle en hul besluite te litigeer. Dit is tog nie ondenkbaar dat so ’n bewaarder ’n gevangene kan aanmoedig om ons leed aan te doen of ’n gevangene te lok met die beloning van voedsel of ander verhandelbare items nie.”

Volgens die hoof van die Windhoek Sentrale Gevangenis, Veikko Armas, is die Fishrot-beskuldigdes al twee weke in die Echo-eenheid en was daar nog geen bedreiging vir hul veiligheid nie.

‘VOORBEREIDING WORD BELEMMER’

Hatuikulipi het verder in hofstukke aangevoer dat die stap sal inmeng met hul voorbereiding vir hul verhoor.

“Ons sal nie toegang tot die internet, die dossier of ander beskuldigdes hê nie,” meen hy.

Hy verduidelik verder dat die televisie wat in die C-afdeling was dit vir hom moontlik gemaak het om na die borgtogaansoeke van sy medebeskuldigdes te kyk, iets wat hy glo nie in die Echo-eenheid sal kan doen nie.

Volgens Armas skets die betrokke beskuldigdes ’n valse prentjie van dié eenheid.

“Die Echo-eenheid is aangewys vir verhoorafwagtende gevangenes soos die applikante. Die omstandighede by die eenheid is ingerig vir die applikante om vir hul verhoor voor te berei. Hulle het toegang tot hul skootrekenaars en internet.”

FISHROT GLO VOORGETREK

In ’n hofaansoek wat vroeër vanjaar ingedien is deur gevangenes van die Windhoek Sentrale Gevangenis wat tersiêre onderrig ontvang, het hulle in hofstukke aangevoer dat die tronkowerhede die Fishrot-beskuldigdes voorgetrek het.

Die studente het aangevoer dat hulle nie lessenaars het waarop hulle kan werk nie en gedwing word om op hul skote te werk.

In Hatuikulipi se verklaring in die huidige aansoek, erken hy dat hulle twee selle gebruik vir voorbereiding vir hulle verhoor waar drie lessenaars en stoele vir hulle gesit is.

Hy het verder gekla dat een van sy medebeskuldigdes nie ’n tafel het om by te sit wanneer hy op sy skootrekenaar werk nie.

PARTYE

Hatuikulipi, Mike Nghipunya, Phillipus Mwapopi, Otneel Shuudifonya, Pius Mwatelulo, Ricardo Gustavo en Sacky Shanghala het die saak teen onder andere die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit en die NCS aanhangig gemaak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!