• Tuisblad
  • Howe
  • Fishrotters word as skuldig beskou, sê Metcalfe

Fishrotters word as skuldig beskou, sê Metcalfe

Beukes behartig steeds Esau se borgtogaansoek
Richard Metcalfe het aan Republikein gesê dat geld nie die rede is waarom hy as regsverteenwoordiger van twee Fishrot-beskuldigdes onttrek het nie.
Iréne-Mari van der Walt
Gister tydens die Fishrot-beskuldigde en voormalige minister van visserye en mariene hulpbronne, Bernard Esau, se verskyning vir sy aansoek om borgtog het dit aan die lig gekom dat sy regsverteenwoordiger, Florian Beukes, se onttrekking gedeeltelik deur wanbetaling gemotiveer is.

Beukes het gesê hul firma Metcalfe Beukes Attorneys is sedert 2021 nie vir hul dienste betaal nie, maar dat hy self Esau se nuwe aansoek om borgtog sal behartig.

Metcalfe het egter aan Republikein gesê dat sy besluit beslis nie op die kwessie van betaling gebaseer is nie.

“Ek het my besluit verlede week pertinent uitgewys. Ek maak dit weer duidelik dat ek nie bereid is om kliënte te verteenwoordig waar ek voel geregtigheid nie sal geskied nie. Hierdie is my subjektiewe opinie en geen geldelike bedrag sal my oorreed om te verskyn in 'n kwessie waar onpartydigheid 'n klaarblyklike onmoontlikheid is nie," het Metcalfe gesê.

Metcalfe Beukes Attorneys het aangedui dat hulle ook aan die Fishrot-sage se hoofverhoor onttrek. Die verhoor teen die tien beskuldigdes sal na verwagting in Oktober vanjaar begin.

"Hulle sal nooit 'n regverdige verhoor kry so lank as 'n Namibiese regter enige Fishrot-verwante saak aanhoor nie. Ek kan nie met 'n skoon gewete deelneem aan hierdie bedrog van geregtigheid nie. Hulle word as skuldig beskou tot hulle onskuldig bewys is en dit is nie die wet in Namibië nie," het Metcalfe aan Republikein gesê.

Beukes het ook die hof versoek om die borgtogaansoek tot vandag uit te stel om vir hom geleentheid te gee om met Esau te konsulteer.

BORGTOGAANSOEK

Dit is Esau se tweede aansoek om borgtog en is daarom op nuwe feite gebaseer.

Hy het reeds verlede jaar die getuienisbank ingeneem, maar sy getuienis is in Desember onderbreek voordat die saak na gister uitgestel is.

Esau se borgtogaansoek word saam met dié van sy medebeskuldigde, Nigel van Wyk, aangehoor.

Van Wyk het voor sy inhegtenisname glo vir ’n medebeskuldigde in die Fishrot-saak en voormalige minister van justisie, Sacky Shanghala, gewerk. Hy is in hegtenis geneem nadat hy na bewering dokumente en bewyse vanuit Shanghala se huis probeer verwyder het, glo in ’n poging om Shanghala se aandeel in die beweerde korrupsieskandaal toe te smeer.

Van Wyk is sedert sy inhegtenisname in aanhouding. Sy eerste aansoek om borgtog in die Windhoekse landdroshof is in Junie 2020 van die hand gewys en sy appèl teen dié besluit is in September 2020 in die hoërhof in Windhoek afgekeur.

Esau se eerste borgtogaansoek, wat hy saam met Hatuikulipi gebring het, is in Julie 2020 in die Windhoekse landdroshof van die hand gewys. Hulle appèlaansoek in die hoërhof teen die weiering van hul borgtogaansoek, het daarna ook misluk.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!