Die Fishrot-beskuldigde, mnr. Tamson ‘Fitty’ Hatuikulipi,voor sy borgtogaansoek gister in die hoërhof in Windhoek hervat het. Foto Kristien Kruger.
Die Fishrot-beskuldigde, mnr. Tamson ‘Fitty’ Hatuikulipi,voor sy borgtogaansoek gister in die hoërhof in Windhoek hervat het. Foto Kristien Kruger.

‘Fitty by Samherji betrek oor skoonpa’

Borgtogaansoek uitgestel tot môre
Die staat beweer die Samherji-groep het mnr. Tamson Hatuikulipi genader omdat hy die minister van visserye se skoonseun was.
Kristien Kruger
“Die enigste rede hoekom Samherji jou aan boord gehou het, terwyl jy niks gedoen het nie, was omdat jy die minister se skoonseun was.”

So het die staatsaanklaer, mnr. Ezekiel Ipinge, gister in die hoërhof in Windhoek tydens een van die Fishrot-beskuldigdes, mnr. Tamson (Fitty) Hatuikulipi, se aansoek om borgtog aangevoer.

Ipinge beweer die Yslandse visgroep, Samherji, het vir Hatuikulipi betrek omdat hy met die destydse minister van visserye en mariene hulpbronne en nou medebeskuldigde mnr. Bernard Esau, se dogter getroud was.

Dit is Hatuikulipi se tweede aansoek om borgtog wat op nuwe feite gebaseer is. Die borgaansoek het gister hervat nadat dit in Julie uitgestel is.

Tamson het op 15 Julie getuig en die staat het gister met kruisondervraging begin.

FAMILIEBANDE

Ipinge het tydens kruisondervraging aan Hatuikulipi gestel hy het tydens sy eerste ontmoeting met verteenwoordigers van die Samherji-groep, sy troufoto’s aan hulle gewys as bevestiging dat hy met Esau se dogter getroud was.

“Jy het andersins geen belange, ervaring of kennis van die visbedryf gehad nie. Hoekom anders sou hulle jou betrek om in die Namibiese visbedryf betrokke te raak?”

Hatuikulipi het dit ontken en beweer Jóhannes Stefánsson het hom oor sy troue, wat ’n maand tevore plaasgevind het, uitgevra en gevra om foto’s te sien. Toe hy vir hom die foto’s gewys het, het hy glo gesê: “Is dit jou vrou? Die minister se dogter?”

Hatuikulipi het hom gevra hoe hy dit weet en Stefánsson het na bewering vir hom gesê: “Moet nie daaroor bekommerd wees nie.”

Op Ipinge se vraag waarom hulle hom betrek het, beweer hy dit was omdat sy besighede goed gedoen het.

Hatuikulipi het besighede in die vermaaklikheidsbedryf besit.

“Daardie besighede was nie uniek aan jou nie en het niks met die visbedryf te doen nie,” het Ipinge geantwoord.

Dié ontmoeting het in November 2011 plaasgevind en Ipinge het uitgewys Samherji het slegs twee maande daarna in Namibiese waters begin visvang.

Tamson het gesê hy het nooit Samherji se planne om Namibië se waters te betree met Esau bespreek nie.

TAMSON HET “NIKS GEDOEN”

Hatuikulipi het wel ’n ooreenkoms met Samherji onderteken dat hy Namibiese houers van viskwotas sal nader om hulle te oorreed om ooreenkomste met Samherji aan te gaan om hul kwotas te vang.

Hatuikulipi het getuig hy het medebeskuldigde, mnr. James Hatuikulipi, betrek oor sy kennis van die visbedryf. Hy het erken James was die een wat met kwotahouers ontmoet het om hulle te oortuig om saam met Samherji te werk.

“Samherji het ’n ooreenkoms met jou aangegaan. Jy het getuig jy het hard gewerk en slapelose nagte gehad, maar James het al die werk gedoen,” het Ipinge gesê.

“Dit is hoe besigheid werk. Ek het James gesubkontrakteer omdat hy die ervaring gehad het. Ons het gereeld vergader om oor strategie te praat. Dit was harde werk,” het Hatuikulipi gesê.

Regter David Munsu het gister die saak tot môre uitgestel nadat sy regsverteenwoordigers meer tyd versoek het om te konsulteer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer