Fishrot-beskuldigde mnr. Tamson "Fitty" Hatuikulipi tydens sy borgtogaansoek wat regstreeks op NBC Digital News se Facebook-blad uitgesaai word. Foto Facebook.
Fishrot-beskuldigde mnr. Tamson "Fitty" Hatuikulipi tydens sy borgtogaansoek wat regstreeks op NBC Digital News se Facebook-blad uitgesaai word. Foto Facebook.

Fitty ontken omkoopgeld

Borgtogaansoek duur vandag voort
Die applikante het gister die hokaairoeper en die staat se sleutelgetuie se geloofwaardigheid in twyfel getrek.
Kristien Kruger
“Dis die staat se weergawe. Hulle sê ek het geen werk gedoen nie. Ek het die bewyse gebring dat ek werk vir Samherji gedoen het en waarvoor hulle my betaal het.

Só het die Fishrot-beskuldigde, mnr. Tamson (Fitty) Hatuikulipi, gister tydens sy aansoek om borgtog in die hoërhof in Windhoek getuig. Die staat het nog nie geleentheid vir kruisondervraging gekry nie en sal na verwagting vandag begin nadat die hoofgetuienis afgehandel is.

Die staat beweer Hatuikulipi het omkoopgeld van die Samherji-groep ontvang om hul hande op Namibiese viskwotas te kry.

“Ek verstaan nie hoe hulle kan sê ek is omgekoop nie, want ek is nie ’n visregtehouer nie en ek het geen kwotas gehad nie,” het hy getuig.

Hatuikulipi het verduidelik Samherji het namens regtehouers hul viskwota gevang. Hulle het na bewering die regtehouers ’n bedrag betaal en het dit daarna teen ’n wins op die internasionale mark verkoop.

“In vergelyking met die geld wat hulle gemaak het, was dit wat ek betaal is, bykans niks.”

‘’N SELFERKENDE MISDADIGER’

Hatuikulipi se verteenwoordiger, mnr. Florian Beukes, het hokaairoeper en staatsgetuie, mnr. Jóhannes Stefánsson, se karakter en geloofwaardigheid tydens sy getuienis in twyfel getrek.

“Die hof kan nie op Stefánsson vertrou nie,” het Hatuikulipi getuig.

Die applikante voer aan dat Stefánsson se vorige besigheid ten gronde gegaan het as gevolg van ’n drank- en dwelmprobleem wat hy glo aan hom erken het.

Hatuikulipi het ook getuig dat hy gesien het hoe Stefánsson dagga rook en baie drank drink. Hy het wel erken hy het nooit gesien hoe Stefánsson kokaïen gebruik nie.

“Hy het ook tydens partytjies vir prostitute betaal om na die huis te kom.”

Beukes het Hatuikulipi versoek om verklarings van ander getuies voor te lees wat verband hou met Stefánsson se misbruik van drank en dwelms en die partytjies.

Beukes het hom gevra waarom Stefánsson oor die Fishrot-skandaal sou jok.

“Jóhannes het my gevra om hom te help om van sy werkgewer ontslae te raak. Hy wou hê dat ek sy vuilwerk moes doen. Ek het gesê ek doen nie sulke goed nie. Hy was kwaad vir my.

“Hy is ’n selferkende misdadiger,” het Hatuikulipi getuig.

FAMILIE

Hatuikulipi het gister gesê die geld wat tussen hom en sy neef en medebeskuldigde, mnr. James Hatuikulipi, oorbetaal is, kan verduidelik word.

Hatuikulipi het ’n gedeelte van die geld wat hy van Samherji ontvang het, na bewering aan James oorbetaal vir sy hulp om Namibiese visregtehouers te oortuig om ooreenkomste met Samherji aan te gaan sodat die maatskappy hul kwotas kan vang.

“Ons is bloedfamilie. Die transaksies tussen ons was vir die hulp wat hy aan my verleen het, lenings wat ons tussen mekaar aangegaan het en die terugbetaling van dié lenings. Ons het nie rekord gehou van al die lenings nie.”

Volgens Hatuikulipi het James vir hom gesê om die geld aan sy verskeie besighede oor te betaal.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!