GBV boaan lys van strafsake in hoërhof
Ellanie Smit – Die meerderheid van die strafregtelike verhore wat verlede jaar voor die hoërhof van Namibië gedien het, het geweld teen vroue en kinders behels.
Hoofregter Peter Shivute het Woensdag by die opening van die 2023-regsjaar verduidelik dat die hoërhof twee afdelings het, die hoofafdeling in Windhoek en die noordelike plaaslike afdeling in Oshakati.
Vir beide afdelings het regters altesaam 140 strafsake aangehoor, het hy gesê.
Altesaam 63 van hierdie sake het met geslagsgebaseerde geweld (GBV) verband gehou, terwyl 21 óf bedrog óf diefstal en 10 mensehandel behels het.
Volgens Shivute is 20 sake deur die hoofafdeling afgehandel, wat op ’n afhandelingskoers van 28% dui. Die noordelike plaaslike afdeling, aan die ander kant, het ’n koers van 17% gehad.
Hy het gesê 57 sake bly op die hofrol om na hierdie regsjaar oorgedra te word.
HERSIENING
“Gedurende die tydperk onder hersiening het die hoërhof 2 917 hersienings van strafsake in die laer howe behartig en 2 135 daarvan afgehandel.”
Shivute het gesê dit verteenwoordig ongeveer 70% van die sake onder hersiening.
Volgens hom het die betrokke regters ook 151 appèlle in strafsake aangehoor en 142 afgehandel. Dit verteenwoordig 98% afgehandelde sake vir die hoofafdeling en 86% vir die noordelike plaaslike afdeling.
Verder het die regters wat strafsake gedurende 2022 aangehoor het 40 vonnisse gelewer na afhandeling van verhore, 83 strafregtelike appèlvonnisse en 190 strafregtelike hersieningsvonnisse.
Shivute het bygevoeg 66% van die uitsprake is betyds gelewer binne die goedgekeurde riglyne by die hoofafdeling en 65% by die noordelike plaaslike afdeling.
LAER HOWE
Intussen het die prestasie van die laer howe verlede jaar nie noemenswaardig verbeter nie, het hy gesê.
“Vir ons om ’n vermindering in die hangende sake te sien, benodig ons meer landdroste, meer hofsale, meer ondersteuningspersoneel en voldoende fondse om periodieke howe te bestuur en om getuiegelde te betaal.”
Die laer howe bestaan uit nege streekhowe, 37 distrikshowe en 35 periodieke howe oraloor Namibië.
“Die landdroskantoor het 64 536 sake oor die hersieningstydperk hanteer. Dit toon ’n toename van 10,4% vanaf die 2021-regsjaar. Altesaam 26 756 sake is afgehandel.”
Shivute het gesê dit beteken 9 065 meer sake is afgehandel vergeleke met die vorige jaar.
Verder is 37 983 sake na Januarie 2023 oorgedra.
HOOGGEREGSHOF
Die aantal sake wat by die hooggeregshof geregistreer is, het van jaar tot jaar toegeneem, het Shivute gesê.
In 2022 is altesaam 114 appèlle by die hooggeregshof geregistreer. Hiervan is 105 siviele appèlle en nege is strafregtelike appèlle.
Gedurende die jaar onder hersiening is 51 sake tussen Maart en November by die rol gevoeg. Hiervan is twee uitgestel en 49 is deur die hof aangehoor.
Van die 49 sake wat aangehoor is, is 47 vonnisse gelewer, dus is 96% afgehandel. Die oorblywende twee geniet nog aandag, het hy gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie